Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Plek in Protea-toetsspan op die spel

Die plaaslike krieketseisoen, asook die franchise-era in Suid-Afrika, kom in die volgende paar weke tot ’n einde met die laaste paar rondes en die eindstryd van die meerdaagreeks. 

Die wedstryde sal ’n geleentheid vir die land se jong spelers bied om ’n kleim af te steek vir ’n plek in die nasionale toetsspan.

Raynard van Tonder dryf die bal van die agtervoet af in ’n meerdaagse wedstryd teen die Dolphins in November verlede jaar, met Grant Roelofsen (paaltjiewagter) wat toekyk. Foto: Gallo Images

In die reeks wedstryde wat Sondag begin, pak die Lions die Dolphins in Johannesburg, die Cape Cobras speel teen die Warriors in Kaapstad en die Titans is gasheer teen die Knights in Centurion. Die eindstryd van die kompetitsie, wat op 25 Maart begin, sal die laaste een wees waarin twee franchise-spanne mekaar pak.

Van volgende seisoen af gaan 15 provinsies weer in twee afdelings in plaaslike krieket kragte meet.

Die huidige seisoen se meerdaagse reeks is verkort weens die Covid19-pandemie met die ses spanne wat in twee groepe opgedeel is. Die wenners van die twee groepe sal dan in die eindstryd aantree.

Die Knights is tans die voorlopers in Groep A, met die Titans bo in Groep B.

Met Faf du Plessis se uittrede uit toetskrieket is daar ’n vakante plek in die Proteas se top-orde en dít behoort as aansporing vir opkomende kolwers in die land te dien om dié maand die lopies in te ryg.

Die jong kolwer van die Knights Raynard van Tonder is waarskynlik voor in die tou om na die toetsspan bevorder te word. Van Tonder, wat reeds 604 lopies in vyf wedstryde in dié seisoen se meerdagreeks aangeteken het, was deel van die Proteas se toetsgroep teen Sri Lanka toe hy sy vinger beseer het.

Sarel Erwee van die Dolphins (422 lopies in vyf wedstryde), sy spanmaat Keegan Petersen (346 lopies in vyf wedstryde) en die Cobras se Kyle Verreynne (355 in drie wedstryde) was al drie in die vergrote toetsgroep in Pakistan. Dit is almal spelers wat hul saak kan versterk met ’n paar goeie vertonings in die komende paar weke.

Dit is verstommend hoe vinnig sake kan verander. ’n Jaar gelede was Pieter Malan en Zubayr Hamza, albei van die Cobras, spelers wat pas hul toetsbuigings in die reekse teen Engeland en Pakistan gemaak het. Albei spelers is skynbaar nou weer agter in die tou.

Die meerdagstryde is egter nie net vir aspirant-toetsspelers belangrik nie. Kontrakering vir volgende seisoen se nuwe bedeling begin ook binnekort en die meerdagwedstryde is ’n geleentheid vir al die spelers om die oog van potensiële nuwe werkgewers te tref.

• SuperSport het ook aangekondig dat hy vir die eerste keer in baie jare plaaslike eersterangse krieket regstreeks op TV gaan uitsaai. Die naweek se wedstryd in Centurion tussen die twee voorlopers, die Knigts en die Titans, sal gebeeldsend word.

Spel begin Sondagoggend om 10:00 Grandstand (201) en Action (210).


Meer oor:  Krieket  |  Raynard Van Tonder  |  Proteas  |  Faf Du Plessis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.