Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
‘Poppemeester’ sit straks agter KSA se U-draai

Welsh Gwaza, Krieket Suid-Afrika (KSA) se magtige sekretaris wie se naam in die Fundudzi-verslag genoem word, word daarvan verdink dat hy ’n rol gespeel het in die lederaad se besluit om nie die tussentydse raad wat Nathi Mthethwa, minister van sport, aangestel het te bekragtig nie.

Welsh Gwaza, Krieket Suid-Afrika se sekretaris.

Die tussentydse raad wil almal wat in die Fundudzi- forensiese verslag na KSA-bestuurspraktyke geïmpliseer word aan die pen laat ry.

Nadat die lederaad – die hoogste gesag in krieket, bestaande uit die 14 uniepresidente – Donderdag aangekondig het dat hulle nie Mthethwa se raad wil bekragtig nie, het verskeie bronne gesê Gwaza sit agter die besluit.

Trouens, regter Zak Yacoob, die voorsitter van die voorgestelde tussentydse raad, is Vrydag prontuit oor Gwaza se invloed binne KSA uitgevra tydens ’n nuuskonferensie waarin Yacoob kaalvuis onder KSA se bestuur en lederaad ingeklim het.

“Ek wil glad nie mense se name noem nie, maar ek wil bevestig dat diegene in die KSA-administrasie met wie ons geskakel het – en jy moet onthou dat meneer Gwaza in daardie hoedanigheid die maatskappysekretaris is – tot dusver moeilik, arrogant en ongeskik was. Hulle gee nie hul samewerking nie en antwoord nie op navrae nie,” sê Yacoob.

“Dit is deel van die probleem. Ons probeer inligting by hulle kry, en hulle verantwoordbaar hou. My vermoede is dit is vanweë die administrasie se ontevredenheid met die tussentydse raad dat hulle waarskynlik by die lederaad gekla het.

“Daar is ’n groot kans dat die bestuur (waar Gwaza na bewering die toutjies trek) ’n groot sê in die besluit gehad het om die tussentydse raad opsy te skuif.”

Rihan Richards, die waarnemende president van KSA, is ook Donderdag gevra of Gwaza die lederaad met ’n regsmening gehelp het voor hul besluit om aan te kondig dat die tussentydse raad nie aangestel sal word nie. Richards het die vraag ontduik.

“Ons het regsadvies ontvang en ons het met prokureurs van buite die organisasie geskakel.”

Gwaza by Fundudzi-verslag betrek

Die prokureursfirma Bowmans gee vir KSA regsraad. Gwaza het vroeër in sy loopbaan as ’n jong prokureur by Bowmans gewerk.

Gwaza word by drie kwessies in die Fundudzi-verslag na KSA-bestuurspraktyke betrek.

Eerstens het hy kennis gedra van die R2,7 miljoen wat KSA aan die spelersvereniging Saca verskuldig was vir spelers se beeldregte in die Mzansi-Superliga van 2018. Dié kwessie het tien maande lank gesloer en is in Oktober 2019 op die spits gedryf toe Corrie van Zyl, Clive Eksteen en Naasei Appiah deur die (nou afgedankte) uitvoerende hoof, Thabang Moroe, geskors is.

Rapport verneem egter Gwaza was regstreeks daarvoor verantwoordelik dat die geld nie betyds aan Saca betaal is nie en dat die spelersvereniging daarna ’n dispuut teen KSA verklaar het, wat tot die skorsing van die ander drie personeellede gelei het.

Volgens inligting is Gwaza op 17 Oktober gevra om ’n nuwe bedrag waarop daar ooreengekom is, R2,3 miljoen, teen 21 Oktober goed te keur, sodat die geld aan Saca betaal kon word. Gwaza het dit nie gedoen nie. Hy is weer op 21 Oktober gevra, maar het eers op 23 Oktober die goedkeuring gegee. Toe was dit te laat en Saca het sy dispuut verklaar.

Gwaza, ’n Moroe-bondgenoot, is nie, soos die ander drie, geskors nie.

Die tweede kwessie waarin Gwaza in die Fundudzi-verslag geïmpliseer word, is KSA se besluit om sy intreereg by die Westelike Provinsie Krieketvereniging (WPKV) in September 2019 uit te oefen.

KSA se verreikende besluit om dít te doen – en in die proses die ganse WP-raad te skors – was grootliks op twee verwikkelinge geskoei.

Eerstens het die konstruksiemaatskappy wat ’n bouprojek by Nuweland gelei het, Stefanutti Stocks, hul bouwerk gestaak weens betalings van R698 000 wat nie gedoen is nie. Tweedens kon WP nie ’n beplande ooreenkoms met die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) onderteken nie.

KSA se raad het op 6 en 7 September 2019 besluit om in te tree, maar Gwaza is op 6 September in kennis gestel dat die betaling wel aan Stefanutti Stocks gedoen is. Die ooreenkoms met KSUT is ook later (op 9 September) onderteken. Moroe het eers twee weke later, op 21 September, vir WP ingelig van die besluit om in te tree.

Teen daardie stadium was dit egter nie meer nodig nie, maar die raad het dit nie geweet nie.

Die KSA-raad het later erken hulle sou nooit die intreereg bekragtig het as hulle geweet het dat daar aan daardie twee vereistes voldoen is nie. Gwaza het dit geweet, maar versuim om die KSA-raad in te lig.

Derdens word Gwaza in die Fundudzi-verslag daarvan beskuldig dat hy, Moroe en Appiah (wat albei sedertdien afgedank is) versuim het om vir die raad te sê ’n omsigtigheidsverslag oor die Singapoerse maatskappy Global Sports Commerce (GSC) is nie gedoen nie. Dit hou verband met ’n kontrak wat KSA met GSC gesluit het vir die MSL van 2019.

Die bogenoemde kwessies is vroeër aan KSA gestuur vir kommentaar. “Om op al die vrae te antwoord, sal vooroordeel skep teenoor sekere individue,” het KSA geantwoord.

KSA het nie op verdere navrae gereageer nie.

Yacoob het Vrydag gesê KSA het sy belofte verbreek om die tussentydse raad aan te stel, omdat die raad “te vinnig begin inmeng het, en hulle baie ongemaklik geword het”.

Meer oor:  Nathi Mthethwa  |  Welsh Gwaza  |  Krieket  |  Ksa  |  Tussentydse Raad  |  Lederaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.