Met die huidige toestande op Senwespark wat drasties verskil van dié wat tradisioneel in Potchefstroom aangetref word, gaan die Lions hul spel voor hul eerste wedstryd in die plaaslike eendag-krieketreeks noodgedwonge moet aanpas.

Die Lions se kaptein, Aaron Phangiso, het Donderdag sy 37ste verjaardag in ’n bioveilige borrel in Potchefstroom gevier. Foto: Gallo Images
Die Johannesburgers pak die Cape Cobras Vrydag in die eerste wedstryd van Groep B se kragmetings, wat in ’n bioborrel in Potchefstroom beslis word.
Die kolfblaaie op dié veld was deur die jare van die bestes om op te kolf in Suid-Afrika, maar dit was duidelik in die wedstryde van Groep A vroeër vandeesmaand dat die bal weens al die eendeweer in dié streek baie stadiger deurskiet.
Dít bemoeilik houespel, veral vir spelers wat aan lekker vinnige blaaie op die Hoëveld gewoond is.
Aaron Phangiso, die Lions se veteraankaptein, het gesê die toestande is straks voordelig vir die ander twee spanne in die groep – die Cobras en die Warriors – omdat hulle meer aan stadiger blaaie gewoond is.
“Ons is egter gereed. Ons het ook baie wedstryde oor die jare aan die kus gespeel.
“Ek het vir die Giants in die MSL (Mzansi-superliga) gespeel, terwyl ’n ou soos Sisanda Magala van Port Elizabeth af kom,” sê Phangiso.
Dié linksdraaier, wat Donderdag sy 37ste verjaardag gevier het, glo egter dat sy span reg is om in die toestande sukses te behaal.
“Ek is vol vertroue dat ons sal kan aanpas. Ek dink ook nie dat dit ’n probleem is dat ons lanklaas gespeel het nie. Die Cobras en die Warriors was in dieselfde posisie.”
Phangiso-hulle is ook terdeë daarvan bewus dat hulle met die intrapslag moet wen, aangesien daar weens die invloed wat die nat weer dalk nie tweede of derde kanse gaan wees nie.
Vroeër het net twee van Groep A se ses wedstryde in Potchefstroom plaasgevind, met reën en ’n nat buiteveld wat die program erg ontwrig het. Die Dolphins het albei wedstryde in dié groep – teen die Titans en die Knights – gewen.
“Ofskoon die vooruitsig vir ’n volle dag se spel Vrydag goed is, weet ’n mens nie hoeveel wedstryde gespeel gaan word nie. En jy beter die wedstryd wen, wat gespeel word.
“Dit is beslis belangrik dat ons die reeks op ’n hoë noot begin,” sê Phangiso.
Die Lions-kaptein het voorts gesê sy manne sukkel maar om by die toestande in die bioveilige borrel aan te pas.
“Al die amptenare doen hul bes om na ons veiligheid en gesondheid om te sien, maar dis maar moeilik. Die ouens eet seker nou gesonder as ooit tevore. Hulle is gewoond om gou uit te gaan vir Nando’s of wat hulle ook al verkies. Nou kan jy dit nie doen nie. Die ouens bring baie tyd in hul hotelkamers deur,” sê Phangiso.
• TV: Vrydag vanaf 10:00 (SS 212).