Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Prince: Hamza sál mas in toetse opkom

Zubayr Hamza het twee eienskappe wat hom ’n baie goeie toetskolwer gaan maak.

Ashwell Prince glo dié 23-jarige Kapenaar, wat Donderdag ’n verrassende insluiting in die Proteas se toetsgroep vir die reeks teen Pakistan was, beskik oor ’n goeie tegniek én vermoë om lang beurte te speel.

Zubayr Hamza speel ’n dekpunt-dryfhou vir die Cape Cobras vroeër dié seisoen. Foto: Gallo Images

“Hy is ’n baie goeie jong kolwer en ek glo hy gaan nog ’n lang loopbaan hê,” sê Prince.

“Hy is ook een van die beste jong spelers in die land teen draaiboulwerk. Hy is ook ’n baie goeie hokkiespeler en het dus goeie voetwerk en gebruik ook sy hande om die bal in die gapings in te manipuleer. Dit is nogal ongewoon vir toporde-kolwer soos hy om só goed teen draaiers te wees aangesien hy (as toporde-kolwer) meestal teen die nuwe bal speel.”

Hamza het die oog getref verlede seisoen toe hy drie honderdtalle vir die Cobras in die meerdagreeks aangeteken het. Hy het 823 lopies teen ’n uitstekende gemiddelde van 69 opgestapel.

Hy is toe beloon met ’n plek in Suid-Afrika seA-span, wat in die Suid-Afrikaanse winter in ’n nie-amptelike toetsreeks teen Indië se naasbestes in Indië gespeel het. Daar was twee vierdag-wedstryde in dié reeks.

Hamza het in sy drie beurte in dié kragmetings tellings van 0, 63 en 93 aangeteken.

Hy het dié seisoen sover minder sukses in die meerdagreeks behaal en het twee vyftigtalle in vyf wedstryde aangeteken.

Dié oud-leerder van Rondebosch Boys’ High spog met ’n eersterangse gemiddelde van 48.95 lopies.

Hy is ook een van die beste jong spelers in die land teen draaiboulwerk.
Ashwell Prince

Linda Zondi, sameroeper van die keurkomitee, het Donderdag in ’n verklaring gesê dat Hamza se keuse deel van hul visie vir die toekoms is. Hiervolgens wil hulle nou al begin om nuwe spelers aan internasionale krieket bloot te stel. Dit is ook geen geheim dat verskeie strydrosse in die huidige span, soos Hashim Amla en Faf du Plessis, se loopbane einde se kant toe staan nie en ’n opvolgplan is die logiese stap.

Prince het egter gesê hy hoop die keurders laat nie net jong spelers soos Hamza drankies aandra nie.

“Hy sal veel meer leer om onder druk op ’n kolfblad te speel, as om om langs die grenstou te sit en te kyk hoe ander speel. Ek hoop die breintrust stuur hom terug na plaaslike krieket as hy nie in die reeks teen Pakistan gaan speel nie,” het Prince gesê.

Die Cobras speel weer meerdagkrieket ná afloop van die Mzansi-liga.

Hoe dit ook al sy, Hamza gaan beslis sy eerste proeseltjie van internasionale krieket in die volgende paar weke kry.

Meer oor:  Ashwell Prince  |  Zubayr Hamza  |  Toetskrieket  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.