Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Prince se glas halfvol ná meerdag-pyn

Die Cape Cobras het ’n paar waardevolle lesse uit dié seisoen se plaaslike meerdagreeks geleer wat dié groep jong spelers nog baie gaan help in die toekoms.

Ashwell Prince, die Cobras se afrigter, het bygevoeg dat hy as afrigter ook baie wyser geword het.

Ashwell Prince Woensdag tydens die Cape Cobras se oefening op Nuweland. Foto: Gallo Images

“Ek het einde verlede jaar gesê die span is soos ’n kleuterskool en dit was verblydend om te sien hoe baie hulle gegroei het,” sê Prince.

“Ek is ook nog ’n jong afrigter. Maar ek glo dat dié tipe ervaring jou as speler en afrigter baie gaan help in die toekoms.

“Ek is ’n baie streng en aggressiewe afrigter in die kleedkamer en dis oomblikke soos dié dat spelers besef hoekom dit so is.

“Hulle verstaan dan waarom hulle in die voorseisoen daai ekstra rondtes om die veld moes hardloop.”

Die Lions het die titel in die laaste oomblikke van die seisoen beklink toe hulle die Warriors uitgehaal het met die son wat reeds laag gesit het.

Hulle het die Cobras in die pylvak verbygesteek en die titel verower.

Die Kaapse streekspan het sy eerste vier wedstryde van die seisoen gewen en die pas aangegee tot in die doodsnikke van die laaste ronde ligastryde.

Die Kapenaars het verlede week die laasteronde-wedstryde begin met ’n voorsprong van 3.02 punte. Dit het beteken dat die Cobras die titel sou beklink het as hulle hul wedstryd teen die Dolphins in Pietermaritzburg sou wen.

As dié wedstryd onbeslis sou eindig, moes die Lions hul wedstryd teen die Warriors in Potchefstroom wen.

Daar was amper nog vier uur oor in Potch toe ons wedstryd klaargemaak het.

En dit is toe ook wat gebeur het.

Die Dolphins het goed gekolf in hul tweede beurt in Pietermaritzburg en die wedstryd het vroeg op dag vier onbeslis geëindig.

Al die aandag het dus na Potchefstroom verskuif.

“Daar was amper nog vier uur oor in Potch toe ons wedstryd klaargemaak het,” het Prince gesê.

“Die ouens was vasgenael aan hul fone (hulle het die regstreekse telkaart en kommentaar in Potch op die web dopgehou), maar ek kon dit nie doen nie. Ons het ’n ruk lank sokker gespeel om aan iets anders te probeer dink, maar toe ons klaar daarmee was, was daar nog twee uur speeltyd (in Potchefstroom) oor.

“Ek het die ouens dopgehou toe hulle gehoor het dat die laaste paaltjie (in Potchefstroom) geval het. Daar was so ’n geskokte stilte.”

Prince het einde verlede jaar ook teleurstelling ervaar toe die Cape Town Blitz, wat hy in die Mzansi-superliga afgerig het, in die eindstryd teen die Jozi Stars verloor het.

“Die Blitz het niks met die Cobras uit te waai nie. Dit is twee heeltemal ander spanne.”

Prince is dit eens dat sy span die teleurstelling van die laaste week as motivering gaan gebruik vir die Eendagbeker-reeks, asook vir die komende seisoen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.