Krieket Suid-Afrika (KSA) se onlangse aankondiging dat eersterangse krieket herskik gaan word sodat die unies voortaan in twee groepe (agt in Afdeling 1 en sewe in Afdeling 2) sal meeding, is met groot opwinding deur die kleiner provinsies begroet.
Die nuwe formaat sal sommige die kans gee om aan ’n voorgestelde Mzansi-superliga deel te neem, as deel van Afdeling 1. Dié gebiede is egter nie sonder konflik nie en drie unies sal hul kwale moet oplos as hulle suksesvol wil bie vir ’n plek in Afdeling 1.
Oostelikes: Span ál ligpunt
Oostelikes-krieketunie se bestuurs- en bedryfsake is in ’n vryval sedert die vorige uitvoerende hoof, Mpho Seopa, in Julie 2020 geskors is.
Die raadsaalchaos word egter nie op die speelveld weerspieël nie, want Richard Das Neves se span was die afgelope twee seisoene uiters suksesvol.

Mpho Seopa
Die span van Benoni het die provinsiale eendagreeks in die 2018-’19-seisoen gewen, terwyl hy ook die T20-reeks gewen het en die driedagtitel met KwaZulu-Natal gedeel het.
Seopa, ’n familielid van die gewese uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika (KSA), Thabang Moroe, is op grond van ’n forensiese oudit, wat Oostelikes aangevra het, geskors.
Oostelikes het ’n strafsaak teen Seopa aanhangig gemaak.
Oostelikes se probleme stop egter nie daar nie. Die gewese president, Xolani Vonya, is verlede jaar twee keer aan ’n mosie van wantroue onderwerp.
Vonya is desnieteenstaande in Oktober 2020 tot KSA se tussentydse raad gevoeg. Hy is daarna verwyder, maar Zak Yacoob, die voorsitter van die raad, het vandeesweek bevestig dat hy terug op die raad is.
Noord-Kaap: Strydbyle is uit
In die Noord-Kaap gaan sake nie veel beter nie. ’n Groep klubs onder Gibson Molale van die Francis Baard-distrik, die grootste geaffilieerde lid van Noord-Kaap-krieket, is ontevrede met die wyse waarop sake by die hoofkwartier in Kimberley bestuur word. Ander rolspelers glo weer Molale se beweringe is slegs ’n poging tot magsoorname.
Die dag-tot-dag-bestuur van die unie word ook nie aangehelp deurdat die president, Rihan Richards, nou waarneem as die president van KSA se lederaad nie. Dít beteken dat hy sy pos op Noord-Kaap-krieket se raad moes opsê.

Rihan Richards
Die pos word nou tydelik deur Molale gevul totdat die verkiesing aan die einde van Februarie plaasvind.
Terwyl Noord-Kaap se lederaad Molale onbestrede as waarnemende president verkies het, word daar bespiegel dat Molale wil verseker niemand anders word benoem vir die presidentskap nie.
Molale sê daar is ’n verhoorproses aan die gang en hy kan nie kommentaar lewer nie. Hy sê ook die unie het ’n taakspan aangestel om die geleentheid te ondersoek om te bie vir ’n plek in die eerste afdeling van plaaslike krieket in die nuwe struktuur.
Grens: Nuwe besem gee hoop
Nes Oostelikes en Noord-Kaap, kan Grens homself ook moontlik binnekort op die topvlak van plaaslike krieket bevind. Die unie het egter ’n geskiedenis van wanadministrasie en politiekery, wat teen hom kan tel.
Stuart Fortuin, die Buffalopark-stadion se gasvryheidsbestuurder, het verlede jaar as die uitvoerende hoof waargeneem nadat Thando Booi dié pos aan die einde van 2019 onder ’n wolk verlaat het. Caroline Maposa, finansiële hoof, is afgedank kort voordat Booi bedank het.
Fortuin het die unie weer na kalmer waters gestuur, maar is nie as ’n langtermyn-plaasvervanger vir Booi beskou nie. Andile Mxenge het hom vroeër vandeesmaand vervang.
Mxenge was ’n talentvolle junior krieketspeler en het ’n nagraadse kwalifikasie in omgewingsbestuur. Volgens ’n nuusverklaring van Grens het Mxenge ’n kop vir besigheid.
Hy sal werk saam met Simphiwe Ndzundzu, die unie se president wat verlede jaar in die nuus was oor ’n aanrandingsaak wat vroue teen hom aanhangig gemaak het. Mxenge kon nie op navrae reageer nie omdat hy ’n begrafnis bygewoon het.