Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Protea-boulers benodig uitklophou

Suid-Afrika se boulers het Donderdag hul aanpasbaarheid gewys, maar ’n ou kwaal – die onvermoë om die uitklophou te plant – het die skaal net-net in Sri Lanka se guns geswaai aan die einde van die eerste dag se spel.

Die Proteas sal Vrydagoggend hul beurt op 4/1 hervat in die eerste kriekettoets in Galle. Sri Lanka is vir 287 uitgeboul.

Aiden Markram word vir nulletjie gevang deur Angelo Mathews. Foto: Gallo Images

Suid-Afrika sou aan die begin van spel tevrede gewees het met dié totaal, maar gegewe dat die tuisspan op 176/8 gestruikel het, was 287 toe ’n baie goeie poging deur Sri Lanka.

Kolftoestande gaan beslis ook nie makliker raak in dié toets nie en dit gaan harde werk van die Proteas verg om ’n eerstebeurt-voorsprong op te bou.

Die blad het van meet af aan die draaiers gehelp en Sri Lanka het drie spesialiste in hul geledere, Rangana Herath, Lakshan Sandakan en Dilruwan Perera.

Hoogtepunte van dag 1

Herath, wat die nuwe bal aan die einde van die dag se spel geneem het, het sommer vroeg reeds toegeslaan en van die Protea-aanvangskolwer Aiden Markram (0) ontslae geraak.

Suid-Afrika is vroeër gevra om eerste te boul en die Proteas se gevreesde naatboulaanval het aanvanklik gesukkel op ’n lewelose blad.

Die ommekeer het egter in die halfuur voor die middagete gekom toe Kagiso Rabada begin het om die tuiskolwers met kort balle te peper. Dale Steyn en Vernon Philander het nie veel sukses met die nuwe bal behaal nie en dit was Rabada (4/50), tesame met die links-bybreke van Tabraiz Shamsi, wat Sri Lanka onder druk geplaas het.

Rabada het ná die middagete in sy tweede skof behoorlik spoed opgetel en twee paaltjies in die eerste beurt van dié skof laat kantel.

Shamsi (3/91) het die druk van die ander kant af laat oplaai en was bitter ongelukkig om nie meer sukses te behaal nie. Hy het die kolwers gereeld geklop en baie meer probleme vir die kolwers as die eerstekeuse-draaier, Keshav Maharaj (0/49), geskep.

Sri Lanka se topkolwers kon nie enige noemenswaardige vennootskappe bou nie en het gereeld paaltjies verloor.

Maar tóé steek daardie frustrerende Suid-Afrikaanse kwaal – die gesukkel om eindkolwers goedkoop uit te haal – weer kop uit.

Sri Lanka se laaste twee paaltjies het nie minder nie as 111 lopies opgelewer en dit het die telling van minder as 200 in ’n skaflike 287 verander.

Selfs Dimuth Karunaratne, wat ’n skitterende 158* aangeteken het, moes bontstaan vir Kagiso Rabada se witwarm wipballe. Foto: Reuters

Die Sri Lankaanse aanvangskolwer Dimuth Karunaratne (158* van 222 balle; 13x4, 1x6) verdien groot lof vir sy vertoning. Terwyl sy spanmaats om hom gesneuwel het, het hy amper nooit in die moeilikheid gelyk nie.

Dié hotkloukolwer was op 93* toe Rangana Herath uitgehardloop is en Sri Lanka toe op 176/8 diep in die moeilikheid was.

Hy het egter 48 lopies om die 9de paaltjie saam met Suranga Lakmal (10) versamel, voor hy en die laaste man, Lakshan Sandakan, 63 om die laaste paaltjie gevoeg het.

Die laaste twee vennootskappe was die hoogste twee van die beurt.

Shamsi het ná die dag se spel gesê hy glo sake het redelik gelykop verloop op die eerste dag.

“Hulle het baie goed gekolf teen die einde van die beurt. Hul kolwers verdien krediet,” sê Shamsi.

Hy was egter in sy noppies met die boulaanval se vertoning.

“Ek dink die naatboulers was uitstekend en Keshav het ook goed geboul. Ek dink ons het as ’n eenheid presteer.”

Telkaart.

Meer oor:  Sri Lanka  |  Toetskrieket  |  Kriekettoets  |  Galle  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.