Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Protea-boulers haal wind uit Windies se seile

Meedoënloos op ’n lengte, kry net genoeg beweging. . . en neem jou paaltjie.

Met dié resep het Suid-Afrika se sneltrio die mees verwoestende boulvertoning in ’n lang tyd gelewer op die eerste dag van die eerste toets teen die Wes-Indiese Eilande in St. Lucia.

Anrich Nortjé
Anrich Nortjé was Donderdag op sy stukke op die eerste dag van die eerste toets teen die Wes-Indiese Eilande. Foto: West Indies Cricket

Die Windies is vir 97 uitgeboul nadat hulle die loot gewen het en die kolf-opsie gekies is.

Kagiso Rabada (1/24), Lungi Ngidi (5/19) en Anrich Nortjé (4/35) was skitterend.

Rabada en Ngidi het die boulwerk begin en die bal van die begin af op ’n tiekie geplant. Net buite die wegpen, bal ná bal.

Rabada het die buiterand van veral die Windie-kaptein, Kraigg Brathwaite (15), klokslag geklop. Ngidi was ook pynlik akkuraat. Albei boulers het beweging deur die lug en eweredige wip uit die blad gekry.

Die blitsige Nortjé het gematig begin, met ’n paar aflewerings in die middel 130’s. Daarna het hy die pedaal begin ingetrap.

Dit was egter nie net sy vaart nie, maar sy akkuraatheid en beweging van die naat af wat die einde van Shai Hope (15) en Brathwaite beteken het. Nortjé het albei geboul deur die wegpen te ontwortel.

Hy het so die hek oopgeskop en Ngidi het toe die middelorde nek omgedraai om sy tweede vyftal aan paaltjies in toetse in te palm.

Rabada was ongelukkig om net een paaltjie te oes. Hy was skitterend en het die buiterand van menige Windie-kolwer met reëlmaat geklop.

Dit was ’n kliniese boulvertoning wat op bestendigheid, geduld en hope vaardigheid geskoei is.

Die Windie-kolwers kan nie eintlik van swak kolfwerk beskuldig word nie. Bykans elke paaltjie wat gekantel het, was die produk van eersteklas-boulwerk en foutlose vangkanse.

Terwyl die snellers se vertoning die grootste krieketnuus uit St. Lucia is, was daar voor die wedstryd ook ’n noemenswaardige oomblik.

Rassie van der Dussen
Rassie van der Dussen kniel voor die eerste toets teen die Wes-Indiese Eilande. Foto: West Indies Cricket

Dean Elgar, die Proteas se nuwe toetskaptein, het vooraf gesê die spanbestuur het vir elke speler ’n keuse gegee oor hoe hy solidariteit met die Windies se veldtog teen rassisme wil betoon.

Vir die eerste keer het sekere Proteas gekniel voor ’n wedstryd vir die nasionale span. Sekere Proteas het wel verlede jaar ook gekniel voor die driespanwedstryd in Centurion, maar hierdie was die eerste keer dat spelers in Protea-kleure die knie gebuig het.

Voor die wedstryd het die TV-kameras gewys hoe die Windies kniel en net ’n paar Suid-Afrikaners gewys, maar ’n mens kon nie die volledige prentjie sien van wie kniel, en wie nie.

’n Foto wat die kommentator Natalie Germanos geneem het, wys wel wie wat gedoen het.

Kniel
’n Selfoonfoto van die Proteas voor die eerste dag se spel in die eerste toets teen die Windies. Van die Proteas het gekniel, sekeres het met ’n vuis in die lug gestaan en sekeres het op aandag gestaan. Foto: Natalie Germanos

Rabada, Ngidi, Kyle Verreynne (wat in die beseerde Temba Bavuma se plek speel), Rassie van der Dussen, Keegan Petersen en Keshav Maharaj het almal gekniel. Elgar, Nortjé, Wiaan Mulder en Aiden Markram het ’n vuis in die lug gehou. Quinton de Kock het op aandag gestaan.

Langs die grenstou het die Proteas se ganse bestuurs- en afrigtingspan gekniel. Dit sluit die hoofafrigter, Mark Boucher, in.

• Met die teetyd het Suid-Afrika 30/1 bereik. Elgar (0) het reeds sy paaltjie verloor. Markram (10*) en die debutant, Petersen (19*), was voor die penne.

TELKAART

Meer oor:  St. Lucia  |  Windies  |  Proteas  |  Wes-Indiese Eilande  |  Krieket  |  Toetskrieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.