Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Protea-boulers trek wa deur drif

Suid-Afrika se boulers was Woensdag op SuperSportpark in Centurion heeltemal te goed vir Sri Lanka in die tweede eendagwedstryd van die reeks. 

RAbada
Kagiso Rabada stuur een van sy kartetse af in die tweede eendagwedstryd teen Sri Lanka Woensdag in Centurion. Foto: AP

Die Protea-boulers het die span gehelp om ’n só-só totaal van 251 suksesvol te verdedig. Hulle het Sri Lanka vir 138 in 32.2 boulbeurte uitgehaal en die wedstryd met 113 lopies gewen. Suid-Afrika loop nou met 2-0 in die reeks van vyf wedstryde voor. 

Hoewel die vier voorslagboulers, Kagiso Rabada (3/43 in nege boulbeurte), Lungi Ngidi (2/14 in 5.2 bbe.), Anrich Nortjé (2/25 in sewe bbe.) en Imran Tahir (2/39 in nege bbe.), almal op hul stukke was, het die Proteas weer net op twee kolwers staat gemaak om hulle by ’n goeie totaal uit te kry. 

Die Proteas se enorme afhanklikheid van Quinton de Kock en Faf du Plessis is nogmaals blootgelê. 

De Kock (94, 70 balle; 17x4, 1x6) en Du Plessis (57, 66 b; 7x4) was skitterend, maar die res van die kolflys het nie veel van ’n bydrae gelewer nie. Suid-Afrika het teen ’n goeie tempo gekolf, maar is in die 46ste boulbeurt reeds uitgehaal. 

In moderne eendagkrieket, waar tellings van 300 of meer die norm eerder as die uitsondering is, is só ’n beskeie kolfpoging onverskoonbaar. Veral ná die puik begin wat die Proteas gehad het.

Die Proteas het dit baie nodig gehad dat een of twee van hul ander kolwers kon voortbou op die puik grondslag wat De Kock en Du Plessis gelê het. Met die oog op die Wêreldbeker-toernooi, is dit ook nie ideaal dat twee kolwers só ’n groot las dra nie. 

In die eerste wedstryd, Sondag op die Wanderers, was dit ook dié duo wat Suid-Afrika oor die wenstreep geneem het. 

Faf du Plessis
Faf du Plessis en Quinton de Kock het albei weer goed gekolf in die Proteas se tweede eendagwedstryd teen Sri Lanka Woensdag in Centurion. Foto: Gallo Images

Met AB de Villiers wat sy uittrede verlede jaar uit internasionale krieket aangekondig het, sou daar altyd ’n groter las op veral Du Plessis se skouers gewees het. Hy dra dié las skitterend en spog met puik eendagspelpeil vir die laaste jaar of wat, maar hy kan dié las ook nie alleen dra nie. 

De Kock se peil is ewe indrukwekkend en hy het nou in sy laaste vier wedstryde, wat die twee toetse teen Sri Lanka insluit, vyf vyftigtalle aangeteken. Vier van dié tellings was bo 80. 

Dit het Woensdag van die begin van sy beurt af gelyk asof hy eenvoudig voortgekolf het van die grondslag wat hy Sondag gelê het. Soos die 17 viere in sy beurt getuig, het hy geen moeite ondervind om die grenstou te tref nie. 

Dit was boonop die gehalte van die houe wat hy gespeel het, wat uitgestaan het. Hy het selde buitensporige houe probeer speel en met skitterende houespel, soos reguit-dryfhoue, dryfhoue deur die dekke en dryfhoue verby middebaan, vorendag gekom. Dit was slegs die gepoogde trekhou waarmee hy sy paaltjie verloor het, wat ’n klad op sy houe-rekord laat. 

Die Proteas se stert het oudergewoonte vinnig verkrummel. Die veelsydige speler Thisara Perera (3/26 in sewe boulbeurte) was Sri Lanka se beste bouler.

Die Protea-snelboulers het met ongelooflike vaart geboul en paaltjies met reëlmaat platgetrek. Sri Lanka se brose kolflys kon net nooit aan die gang kom nie.

Suid-Afrika se sterkpunt is sonder twyfel sy boulers, maar daar kan nie altyd van hulle verwag word om die wa deur die drif te trek wanneer die kolwers misluk nie.

* In ’n interessante wending, het David Miller later in die wedstryd, toe Suid-Afrika van ’n oorwinning verseker was, die paaltjiewagterhandskoene by Quinton de Kock oorgeneem. 

Dit is onduidelik of De Kock beseer was en of dit slegs ’n proefneming was. Dit is onwaarskynlik of Suid-Afrika ’n bykomende paaltjiewagter na die WB-toernooi sal neem. 

Miller kan dus daar met die handskoene toevertrou word in ’n noodgeval. 

Telkaart

Meer oor:  Sri Lanka  |  Eendagreeks  |  Proteas  |  Centurion
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.