Pakistan t. SA, 1ste toets, dag 2
SA (1ste beurt) 220
Pakistan (1ste beurt) 308/8

Fawad Alam Woensdag onderweg na sy 100-tal teen die Proteas. Foto: AP
Fawad Alam is 35 jaar gelede in die einste Karatsji gebore. Sy eersterangse kolfgemiddeld in die internasionale stadion in Karatsji is meer as 70 lopies.
’n Mens kan die Proteas dus beswaarlik kwalik neem dat hul kolwers Dinsdag nie kon kolf soos wat Alam Woensdag gekolf het nie. Hy ken dié stad en dié blad so goed soos bloedfamilie.
Waaroor ’n mens wel knorrig kan wees, is dat Alam (109), Azhar Ali (51) en die laerordekolwer Faheem Ashraf (64) met hul beurte gewys het die Suid-Afrikaners het op die eerste dag geen verskoning gehad vir hul vrot kolfvertoning nie. As jy jou ingrawe, geduldig bly en bereid is om ’n beurt te bou, kán jy lopies slaan.
HOOGTEPUNTE: DAG 2
Alam en Ali het die dag immers hervat met Pakistan op 33/4 kniediep in die modder. Stelselmatig het hulle hul span daar uitgetrek.
’n Mens kan ook met reg kopkrap oor die drie verwysings wat Quinton de Kock en Suid-Afrika Woensdagoggend argeloos gemors het. Weens Covid-regulasies kry spanne deesdae drie verwysings per beurt en nie meer net twee nie. Die rede is dat daar weens reisbeperkings van skeidsregters van die tuisland gebruik maak. Spanne het dus ’n ekstra verwysing om vir enige voordeel wat die tuisspan dalk hieroor kan hê te vergoed. Suid-Afrika het sy drie verwysings egter vroeg vermors op beslissings met min kans om omgekeer te word.

Die Suid-Afrikaners hou die grootskerm dop om te sien of een van hul verwysings geslaag het. Foto: AP
Suid-Afrika se boulers het Woensdag aanvanklik eintlik nie te power vertoon nie. Lungi Ngidi (2/55) en Kagiso Rabada (2/45) het die bal omgekeerd laat swaai, terwyl Keshav Maharaj (2/71) ’n goeie ritme gevind het. Rabada sou nog ’n paaltjie gehad het, maar De Kock het Faheem op 21 van sy boulwerk laat val. Dit was wel ’n moeilike vangkans.
Met die tweede nuwe bal, het die wiele egter effens afgeval. Lopies het vinnig gevloei. Dit is ook onverstaanbaar dat Aiden Markram boulkans gekry het met ’n betreklik nuwe bal.
Maharaj het boonop laat in die dag vir Hasan Ali met ’n foutbal skoongeboul. Dit is onverskoonbaar vir ’n draaibouler.
Die storie van die dag is egter dat dit nie onmoontlik is om op dié blad te kolf nie. Dean Elgar se opsomming dat 220 ver benede standaard is vir ’n eerstebeurttelling, blyk in die kol te wees.
Suid-Afrika het nou ’n steil bult om uit te klim, met Pakistan se voorsprong reeds 88 lopies.
En dít is die Protea-kolwers se skuld.
TELKAART