Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Groentjie: Van Menlopark tot Lahore

Die belowende Jacques Snyman, een van die nuwelinge in die Proteas se T20-krieketgroep, is in Pretoria se klubliga “ontdek”.

Heinrich Klaasen, destyds die Tuks-kaptein wat nou ook sy kaptein in die Suid-Afrikaanse T20-span gaan wees, het ook ’n rol gespeel in sy skuif na die Noord-Kaap (voorheen Griekwas), vir wie hy toe in 2016 sy eersterangse buiging gemaak het. Die 26-jarige kolwer het hom in Kimberley verder opgewerk tot waar hy vandag is.

Hy is in sy eerste seisoen as gekontrakteerde Knights-speler vandeesweek in die Suid-Afrikaanse T20-groep ingesluit, wat volgende maand na Pakistan toer.

Snyman, ’n oudleerling van Menlopark, het Noordelikes in 2012 in Potchefstroom in die Khaya Majola-week verteenwoordig, maar het ná skool met ’n magdom talent in Pretoria meegeding om die volgende stap na eersterangse krieket te maak. Dit het hy reggekry toe JP Triegaardt, wat Noord-Kaap se afrigter was en nou die Knights se hulpafrigter is, hom met ’n kontrak genader het.

Jacques Snyman is ’n kolwer met ’n aanvallende ingesteldheid, wat veral nommerpas is vir T20-krieket. Foto: Gallo Images

“Ek onthou nog ek was besig om af te rig toe my foon gelui het,” sê Snyman van Triegaardt se oproep destyds.

“Hy het my ’n kontrak aangebied nadat ek ’n paar goeie seisoene by die Pretoria High School Old Boys-klub gehad (vir wie hy ná Tukkies gespeel het).”

Triegaardt onthul Snyman se statistieke en ’n oproep na Klaasen en Aiden Markram, wat hy leer ken het as ’n breier van die SA Akademie-span in Sri Lanka, het hom oortuig daar steek iets in dié kolwer.

“Ek was op soek na twee jong kolwers wat ek gevoel het Noord-Kaap vorentoe kan neem. Ek het ’n bietjie navorsing gaan doen in die provinsies – tot in klubkrieket. Ek het toe gedink aan Pretoria, wat ’n baie sterk klubliga het,” sê Triegaardt.

“Jacques was onder die voorste kolwers daar en ek het oor hom begin uitvra. Ek het ook vir Klaasen en Markram, wat ek geken het van ons toer na Sri Lanka, gevra wat hulle van hom dink. Hulle het ook geglo hy kan speel, maar dat hy met die baie spelers in Pretoria nie geleenthede kry nie. Hy het sy vakleerlingskap van heel onder af gedoen en verdien waar hy nou is.”

Snyman glo sy uitstappies in die afseisoen by klubs in Engeland en meer onlangs Ierland het hom ’n beter speler gemaak.

Ek hou ook daarvan om die eerste hou te plant en vuur met vuur te beveg.

“Dit het my baie gehelp om eienaarskap te neem, want as jy die beroepspeler by ’n klub is, moet jy ’n bietjie meer eienaarskap aanvaar en goed presteer, want die klub se vertoning hang baie af van jou vertoning as die klub se beroepspeler. Dit het my baie goed gedoen.”

Snyman is ’n aanvallende kolwer, wat van meet af aan die telling aan die rol sit. Dit het hy gewys met sy haastige 100-tal in die Knights se eerste meerdagwedstryd teen die Warriors in Bloemfontein, toe hy in die oggendskof van net 70 balle die vinnigste 100-tal in die geskiedenis van die reeks gemoker het.

Sy aanvallende kolfstyl voel hy is iets wat natuurlik by hom ingeburger is. Die feit dat hy in Pretoria met vinnige kolfblaaie grootgeword het, het volgens hom dalk ook iets daarmee te make.

“Ek hou ook daarvan om die eerste hou te plant en vuur met vuur te beveg.’’

Intussen hoop hy om speelkans in Lahore te kry en sodoende sy droom van kleintyd – om eendag vir sy land in Groen-en-goud te speel – te kan bewaarheid.

“Dis reeds vir my ’n hengse voorreg om net in die groep te kan wees. Ek is seker daarvan ek gaan baie dinge leer en groter dinge bereik daarna.”

Meer oor:  Pakistan  |  Krieket  |  T20  |  Jacques Snyman  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.