Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Protea Klaas wys seuns toe wie is baas
Masabata Klaas stuur ’n aflewering af tydens ’n T20-wedstryd in 2018 in die Karibiese Eilande. Foto: Getty Images

Toe die Suid-Afrikaanse vrouekrieketspeler Masabata Klaas destyds as 11-jarige saam met die seuns by haar skool wou krieket speel, wou hulle haar nie kans gee om te boul of te kolf nie ... toe maak sy ’n plan.

Vandag, op 29-jarige ouderdom, is dié naatbouler ’n gerekende lid van die Protea se vrouespan. Sy het in 2010 reeds haar debuut vir die nasionale span gemaak.

“Ek het begin krieket speel toe ek 11 jaar oud was by my skool in Botshabelo (naby Bloemfontein). Gedurende pouses het ek gesien dat die seuns krieket speel en ek wou saam gespeel het.

“Hulle het egter vir my gesê dat dit ’n sport vir seuns is en hulle wou my nie laat kolf of boul nie. Ek moes net die heeltyd veldwerk doen.

“Dit is toe dat ek besluit het om self ’n plan te maak en die bal te vat en te boul. Toe kon die seuns sien dat ek kan speel,” sê Klaas.

Masabata Klaas by ’n afrigtingskliniek vroeër vanjaar tydens die T20-Wêreldbekertoernooi in Australië. Foto: Getty Images

Kort daarna, toe sy 13 was, was daar ’n onderwyser wat ’n meisiespan by die skool saamgestel het. Kort voor lank het Klaas aan die proewe vir die Vrystaat se o.15-span deelgeneem. Een ding het tot ’n ander gelei en nie lank daarna nie het sy haar buiging vir die nasionale span gemaak.

“Dit was vir my ’n droom wat waar geword het. Toe ek ’n kind was, het ek altyd vir Makhaya Ntini (voormalige snelbouler van die Proteas) bewonder en altyd gesê ek wil net soos hy wees,” sê Klaas.

Haar tyd as krieketspeler is kortgeknip toe haar dogter, Rethabile, in Januarie 2013 gebore is. Sy sou eers weer in 2015 vir die Proteas speel en moes ’n lang en moeilike pad stap om weer die keurders se oog te tref.

“Ek het vir myself destyds gesê dat die swangerskap nie in die pad van my droom gaan staan nie.

“My ma (Paulinah) het geweet dat dit my droom is om krieket te speel en het my oral ondersteun waar sy kon. Nou nog, as ek oorsee gaan, gaan bly my kind by haar. My ma is eintlik my held.

“Ná my swangerskap moes ek hard werk om weer fiks te word en moes ek eers weer vir die Vrystaat gaan speel. Daar het die nasionale keurders my raakgesien en my weer vir die Proteas gekies,” sê Klaas, wat sedert 2017 ’n gekontrakteerde speler van Krieket Suid-Afrika is.

Wel, sy het die keurders se vertroue in haar regverdig, want in 2019 het sy slegs die tweede Suid-Afrikaanse vrou naas Dané van Niekerk geword om ’n driekuns met die bal in ’n internasionale eendagwedstryd te behaal. Sy het die prestasie teen Pakistan in Potchefstroom vermag.

Klaas se groot droom is om ’n kans te kry om in die Big Bash – ’n T20-toernooi in Australië – te speel. Van haar Protea-spanmaats soos Van Niekerk, Lizelle Lee en Marizanne Kapp het al hul talente daar gaan vertoon.

Meer oor:  Protea-Vroue  |  Vrouekrieket  |  Vrouesport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.