Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Protea-kolwers haak steeds in 3de rat vas
Quinton de Kock trek weg vir ’n enkellopie in die Proteas se tweede T20-wedstryd Woensdag teen Indië in Mohali. Foto: AP

Niks het verander nie. 

Daar is dalk ’n nuwe afrigtingspan, maar dit was maar weer dieselfde versukkelde, oninspirerende Protea-kolfvertoning. 

In die tweede T20-wedstryd van sy reeks teen Indië het Suid-Afrika Woensdag in Mohali ’n vet, minagtende vuishou in die wind gekry. 

Die Proteas se nederlaag met sewe paaltjies is te wyte aan ’n amateuragtige onvermoë van die kolwers om na ’n hoër rat oor te skakel. 

Was dit nie vir die instaankaptein, Quinton de Kock (52, 37 balle) se treftempo van 140.52 nie, sou die Proteas ’n nóg meer beskeie totaal behaal het as die 149/5 wat hulle op die einde bymekaar geskraap het. D

ié teiken, wat reeds gepantser is deur 16 lopies in die laaste boulbeurt, sou nooit op ’n goeie kolfblad enige uitdaging vir Indië se meesterkolwers bied nie. 

Die tuisspan, met die kaptein, Virat Kohli (72*, 52 b), aan die spits, het die teiken in die voorlaaste beurt bereik. 

Die Enoch Nkwe-era skop sodoende swak af. ’n Nederlaag sou nog aanvaarbaar wees, mits Protea-ondersteuners positiewe veranderinge sedert die Wêreldbeker-misoes by veral die kolwers kon bespeur. 

Lance Klusener, die waarnemende kolfafrigter, het gesê hy wil sien dat die kolwers met meer intensiteit kolf. 

De Kock het dit gedoen. Hy het met briljante dryfhoue die Indiese veld oopgekloof. Toe hy uit is, was daar egter niemand wat die grenstou met reëlmaat kon vind nie. 

Indië se kaptein, Virat Kohli, het ’n vyftigtal teen die Proteas aangeteken. Foto: AP

Temba Bavuma het sy taak in sy T20-buiging verrig en die slag roteer onderweg na sy 49 (41 balle). Die probleem is dat hy slegs drie viere en ’n enkele ses kon slaan.

’n Kragbenadering is nie Bavuma se styl nie. Maar dit is Rassie van der Dussen s’n, en selfs nog meer David Miller s’n.

Van der Dussen (1) het met die telling op 88/2 ná 11.2 beurte ingestap en is deur Ravindra Jadeja (1/31) van sy eie boulwerk uitgevang. 

Miller het ingestap met ’n goeie grondslag wat vir hom gelê is – met die telling op 90/3 ná 12.1 beurte. Die tafel was gedek vir ’n Miller Time-bonanza! Maar helaas.

Soos iemand op Twitter opmerk – Miller Time blyk ’n mite te wees. Hy word bykans ’n spesialisveldwerker – want dít kan hy doen, soos hy weer met sy skitterende, duikende eenhand-vangkans bewys het om van Skikhar Dhawan ontslae te raak.

Met die kolf het Miller 15 balle lank geraap-en-geskraap vir sy 18 lopies. Dit terwyl hy in die doodsnikbeurte moes versnel. 

Dwaine Pretorius (10*, 7 b) en Andile Phehlukwayo (8*, 5 b) het elk ’n ses in die laaste boulbeurt geslaan om die Proteas by ’n totaal uit te kry wat so 30, 40 lopies te min was. 

’n Onvermoë om te versnel, is ’n probleem wat Suid-Afrika die laaste seisoen of wat al hoe meer kwel.

Dit blyk nou dit was nie uitsluitlik ’n Ottis Gibson-probleem nie. 

Die boulers het hul bes gedoen en gehelp dat die wedstryd nie vernederend vroeg klaarmaak nie, maar die teiken was net te skraps. Andile Phehlukwayo (1/20) het Rohit Sharma (12) met ’n goeie bal been voor paaltjie betrap, maar Dhawan (40, 31 b) en Kohli het daarna voortgekolf met die gemak waarmee ’n mens op ’n Sondagmiddag ná kerk tee sal drink. 

Teen die tyd van Miller se wonder-vangkans om Dhawan terug te stuur, was die skade reeds aangerig. Bjorn Fortuin (1/32) se eerste internasionale paaltjie – dié van Rishabh Pant (4) – was maar ’n skrale troosprys.

Die derde wedstryd word Sondag in Bengaluru beslis. As die kolwers nie vuur in hul agterstewe kry nie, gaan dit nog ’n teepartytjie vir die indrukwekkende Indiese span wees. 

Meer oor:  Mohali  |  Indië  |  T20  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.