Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Protea-kolwers verlep teen Aussies
David Miller op pad na sy vyftigtal teen die Aussies in Adelaide. Foto: Getty Images

’n Vyftigtal deur David Miller was nie genoeg om te vergoed vir die Protea-voorslagkolwers se treurige vertonings in die tweede eendagwedstryd teen Australië Vrydag in Adelaide nie.

Suid-Afrika het dié wedstryd met sewe lopies verloor nadat Australië vir ’n beskeie 231 uitgeboul is op ’n betreklik mak kolfblad. Die Proteas kon slegs 224/9 in hul 50 boulbeurte bereik. Die einde was ook glad nie so spannend soos wat die telling weerspieël nie.

Die Proteas het op 68/4 gesteier, nadat veral Aiden Markram (19) en Heinrich Klaasen (14) hul paaltjies weggesmyt het.

Markram is uitgehardloop, terwyl Klaasen ’n hou na die bykant forseer het en uitgevang is.

Daarna het Faf du Plessis (47) en David Miller (51, 71 aflewerings) lewe terug in Suid-Afrika se jaagtog geblaas met ’n hardnekkige vennootskap van 74. Toe Du Plessis ’n aflewering van Pat Cummins (1/27 in tien boulbeurte) buite die wegpen gejaag het, binnerand bygekry en dit op sy paaltjies getrek het, was dit weer benoude boude vir die Proteas.

Op daardie tydstip het hulle nog 90 lopies vir ’n oorwinning benodig. Die lopietempo was toe geen probleem nie, maar die erkende kolwers het min geword.

Aiden Markram lê op sy maag uitgestrek nadat hy vir 19 uitgehardloop is. Foto: Getty Images

Dwaine Pretorius (14) het die Proteas nader aan die wenstreep help dra met ’n vennootskap van 32 saam met Miller. Toe smyt hy ook sy paaltjie weg met ’n onbesonne trekhou.

Toe Dale Steyn hom by Miller in die middel aangesluit het, het die Proteas 58 lopies van 70 aflewerings vir ’n oorwinning benodig, met vier paaltjies staande.

Steyn (3) het egter nie lank staande gebly nie en toe Miller deur boonop deur Marcus Stoinis (3/35 in 10 bbe.) been voor paaltjie betrap is, was dit neusie verby vir die Proteas, al het die stertkantkolwers Kagiso Rabada (9, 17 b) en Lungi Ngidi (19*, 20 balle) die Aussies so ’n bietjie skrikgemaak.

Die kolfprobleme in die afwesigheid van Hashim Amla en JP Duminy (albei beseer) en AB de Villiers (uitgetree) is kommerwekkend en die onervare kolwers sal na vore moet tree in Sondag se beslissende stryd in Hobart.

Pretorius het vroeër met die bal uitgeblink nadat Suid-Afrika die loot gewen en besluit het om eerste te boul.

Sy goeie lyn en lengte het hom gehelp om syfers van 3/32 in sy tien boulbeurte te behaal.

Dwaine Pretorius het uitgeblink met die bal in die Proteas se tweede eendagwedstryd Vrydag teen die Aussies in Adelaide. Foto: AP

Pretorius het sy Aussie-slagoffers met dodelike akkuraatheid verwurg. Teen ’n gemiddelde boulspoed van 125 km/h sal hy nooit kolwers se broeke met angs laat bewe nie. Wat hy wel doen, is om subtiele variasies te gebruik en strykdeur die wegpen aan te val.

Dale Steyn was, soos in die eerste eendagstryd in Perth, ook uitstekend. Veral aan die begin van die beurt het hy Finch se kolf klokslag geklop.

Dié voorslagbouler het met syfers van 2/31 in tien boulbeurte geëindig. Hy het met tye aflewerings afgestuur wat die spoedmeter tot die hoë 140’s laat styg het.

Rabada (4/54 in 9.3 bbe.) was ook goed, hoewel hy duurder as Pretorius en Steyn was.

Die vennootskap van 27 tussen die Aussie-stertkantkolwers Adam Zampa (22, 24 balle) en Josh Hazlewood (10*, 13 balle) het Suid-Afrika uiteindelik ook duur te staan gekom.

Telkaart.

Meer oor:  David Miller  |  Aiden Markram  |  Adelaide  |  Australie  |  Krieket  |  Eendagreeks  |  Proteas  |  Aussies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.