Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Protea-kwotavereistes opgeskort

Die tussentydse raad van Krieket Suid-Afrika (KSA) het die nuwe transformasie-teikens waaraan die nasionale span moet voldoen, vir eers opgeskort.

Dit beteken die Proteas kan voortaan weer daarna mik om ses swart spelers (swart, bruin, Indiër) te kies, waarvan twee etnies swart is.

Judith February, die woordvoerder van KSA se tussentydse raad.

Netwerk24 het vroeër vandeesweek berig die Proteas se span is in die afgelope T20-reeks teen Engeland volgens strenger vereistes gekies, wat die span genoop het om drie etnies swart spelers te gebruik.

Judith February, die woordvoerder van die tussentydse raad, het Vrydag aan Netwerk24 bevestig dié teikens is vir eers opgeskort totdat die raad die aangeleentheid kan bespreek.

Ons verstaan transformasie is baie belangrik en ons sal dit aanspreek.
Judith February

“Oudregter Zak Yacoob (voorsitter van die tussentydse raad) het gesê die raad het nog nie die geleentheid gehad om die kwessie van transformasie en die beleid rondom dit te bespreek nie,” sê February.

“Ons verstaan transformasie is baie belangrik en ons sal dit aanspreek. In die tussentyd sal die dokument wat die vorige raad voorgelê het, opgeskort word totdat die tussentydse raad dit kan bespreek.”

Netwerk24 het ’n dokument gesien uit ’n voorlegging wat KSA aan Nathi Mthethwa, minister van sport, gedoen het, waarin die Proteas se vooruitgeskatte transformasie-teikens vir 2020 tot 2023 vervat is. Volgens dié voorlegging, wat deur die gewese raadslid dr. Eugenia Kula-Ameyaw gedoen is, moet daar ’n gemiddeld van 58% swart spelers wees waarvan 25% etnies swart is.

Die teikens word as ’n gemiddeld oor ’n seisoen gemeet. Dit kom neer op 6,38 swart spelers per elftal, waarvan 2,7 etnies swart moet wees.

Die teikens sou volgens die voorlegging aan die begin van die 2021-’22-seisoen tot 60% (27% etnies swart) verhoog word en dan later in dieselfde seisoen tot 63% (30% etnies swart) styg. Laasgenoemde syfers sal beteken die Proteas moet byna in elke wedstryd sewe swart spelers kies, waarvan drie etnies swart.

Vir die 2022-’23-seisoen – die seisoen waarin die volgende Wêreldbeker-toernooi oor 50 boulbeurte gespeel word – sal die Protea-span volgens die voorlegging 63% swart spelers moes insluit, met 33% wat etnies swart sou moes wees.

• Intussen is die Proteas se eerste eendagwedstryd teen Engeland Vrydag weens ’n positiewe koronavirus-geval in die Suid-Afrikaanse krieketkamp tot Sondag uitgestel.

Ons het vasgestel dat die persoon onlangs die virus moes opgedoen het, wat op ’n verbreking van die bio-veilige omgewing dui.
Dr. Shuaib Manjra

Krieket Suid-Afrika (KSA) sê een van die Proteas is positief vir die virus getoets in die laaste ronde van toetse, wat Donderdag voor die eendagreeks gedoen is. Dr. Shuaib Manjra, die Protea-spandokter, sê die toetsuitslag het hulle verbaas.

“Ons het vertroue in die integriteit van die bio-veilige omgewing. Ons het vasgestel dat die persoon onlangs die virus moes opgedoen het, wat op ’n verbreking van die bio-veilige omgewing dui,” sê Manjra.

“Ons is besig om dit te ondersoek. Ons kon nog nie die bron van die positiewe uitslag vasstel nie. Maar die bioborrel is 99% veilig.

“Ek kan bevestig dat daar geen speler is wat die hotel kan verlaat sonder ’n amptelike drywer nie, want daar is veiligheidsdienste.

“Engeland het die bioborrel bevraagteken en dit is te verstane, want as ’n speler in die laaste week die virus opgedoen het, is daar rede tot kommer.”

Die span sal Saterdag weer getoets word.

Ashley Giles, Engeland se direkteur van krieket, sê die veiligheid van die Engelse span en bestuur is hul eerste prioriteit. Hy het KSA vir sy “samewerkende benadering” bedank.

“Die Engelse groep sal Vrydag en Saterdag by sy basis in Kaapstad bly en ons hoop die reeks van drie wedstryde sal gespeel word voordat ons volgende Donderdag vertrek.”

Die eerste wedstryd vind nou op Bolandpark in die Paarl plaas, as daar geen verdere positiewe gevalle is nie. Die tweede wedstryd word vir Maandag op Nuweland beplan. Die reeks eindig Woensdag met die derde eendagwedstryd op Nuweland.

• Clive Eksteen, voormalige hoof van borgskapsverhoudinge by KSA, het intussen Vrydag in ’n verklaring gesê die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie het bevind KSA het hom vroeër vanjaar onregverdig ontslaan.

Eksteen sê die kwessie is nou opgelos en sy naam is in ere herstel. Volgens Eksteen erken KSA dat hy onregverdig ontslaan is. February sê die tussentydse raad is verheug die “betreurenswaardige” kwessie is nou afgehandel.”

Meer oor:  Ksa  |  Eendagreeks  |  Krieket Suid-Afrika  |  Proteas  |  Engeland  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.