Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Protea pak vrugte om pot aan kook te hou

Toe die Protea-krieketspeler Tazmin Brits verlede week deur Krieket Suid-Afrika (KSA) vereer is, was daar nie tyd vir feesvier nie, want die Covid-19-pandemie het haar gedwing om den brode ’n vrugtepakker te wees.

Tazmin Brits in aksie vir die Suid-Afrikaanse Opkomende span in 2019 in Pretoria. Foto: Gallo Images

Dié 29-jarige, wat vir Noordwes speel, is Vrydag tydens KSA se prysuitdeling vir amateurs as Vrouespeler van die Jaar vereer. En heel welverdiend ook, want sy het byvoorbeeld in November 119 onoorwonne lopies van 66 balle teen die Vrystaat in ’n T20-wedstryd gemoker.

“Ek is nie gekontrakteer (by KSA) nie; baie mense sê dit is weens my ouderdom en dat hulle eerder die jonger meisies kans gee. Ek is eintlik ’n afrigter by die Noordwes-krieketunie (in Potchefstroom), maar met die inperking kan ek nie afrig nie, so ek werk tydelik as ’n vrugtepakker by Spar in Klerksdorp,” sê Brits.

“Die aand toe ek die prys kry, het ek en my ma saam na die uitsending (dit was aanlyn) gekyk. Toe hulle aankondig dat dit ek is, het ek en my ma mekaar omhels en toe sê ek dat ons nie kan feesvier nie, want ek moet gaan slaap, want ek werk die volgende dag. Ons het vir mekaar gekyk en net gelag.

Die Here sit ’n mens soms op paaie, en miskien is daar ’n rede hoekom dit gebeur het.

“So iets soos die prys is baie lekker, ek het nooit eintlik gedink dat ek dit sal wen nie. En ja, dit maak ’n mens meer gemotiveerd,” sê sy.

Tazmin Brits was ’n belowende spiesgooier wat gedroom het daarvan om aan die Olimpiese Spele deel te neem. Foto: Christiaan Kotze

Brits ken van opofferings en weer opstaan as die lewe sy klappe uitdeel. Sy was ’n belowende spiesgooier, wat in 2007 die goue medalje by die o.18-Wêreldkampioenskap in die Tsjeggiese Republiek met ’n afstand van 51,71 m gewen het.

’n Jaar later was sy vyfde (56,12 m) by die o.20-Wêreldkampioenskap in Pole en haar droom van deelname aan die Olimpiese Spele in 2012 het gestalte begin kry.

Toe, aan die einde van 2011, nadat sy die spies tydens ’n oefensessie verder as 60 m gegooi het, was sy in ’n ernstige motorongeluk op die pad tussen Potchefstroom en Klerksdorp betrokke. ’n Ongeluk waarin sy ernstig beseer is en die einde van haar atletiekdroom beteken het – maar haar ook op ’n nuwe koers geplaas het.

“Dit is steeds baie moeilik vir my om dit te verwerk, veral as ek dink waar ek kon gewees het. Die Here sit ’n mens soms op paaie, en miskien is daar ’n rede hoekom dit gebeur het,” sê Brits.

Sy het reeds op skool krieket gespeel, maar dit later laat vaar toe sy op spiesgooi gekonsenteer het.

“Dit is eintlik snaaks hoe ek weer by krieket betrokke geraak het. Ek was in ’n kuierplek en het toe begin gesels met Francois van der Merwe, wat Noordwes se vroueafrigter is. Hy het gesê dat hy meisies soek om krieket te speel.

Wanneer jy die pot soos Tazmin Brits aan die kook moet hou, is daar nie tyd om fees te vier nie. Foto: Gallo Images

“Ek sê toe dat ek niks meer het nie, niks kit nie, niks. Hy sê toe dat ek net my tekkies moet bring,” sê Brits.

Een ding het tot ’n ander gelei en kort voor lank het sy in 2018 die eerste van 15 T20-wedstryde tot op hede vir die Proteas gespeel.

Sy erken dit was ’n teleurstelling om vroeër vanjaar oor die hoof gesien te word vir die Suid-Afrikaanse span wat aan die Wêreldbeker-toernooi in die kortste formaat in Australië gaan deelneem het.

En hoewel sy haar land nog nie in eendagkrieket verteenwoordig het nie, is haar volgende mikpunt die Wêreldbeker-toernooi, wat in Februarie in Nieu-Seeland begin.

Meer oor:  Vrugtepakker  |  Ksa  |  Spar  |  Vrouekrieket  |  Tazmin Brits  |  Krieket Suid-Afrika  |  Covid-19  |  Protea-Vrouekrieketspan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.