Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Protea Dwaine ondergaan transformasie
Dwaine Pretorius is besig om sy boulaksie te verander. In hierdie foto van die toets tussen die Proteas en Engeland in Januarie op die Wanderers, kan gesien word hoe sy voorste been “wegval”, oftewel hoe sy knie buig wanneer hy die bal aflewer. Foto: Gallo Images

Op 31-jarige ouderdom is Dwaine Pretorius besig om te bewys ’n mens is nooit te oud om “slegte gewoontes” af te leer en jouself te verbeter nie. 

Pretorius is tans in die 16de week van ’n uitmergelende en soms frustrerende transformasieproses. Dié veelsydige speler verander die aksie waarmee hy al 20 jaar boul om sodoende sy krieketloopbaan te probeer verleng.

“Ek boul eintlik nie soos ’n normale snelbouler nie. My voorste been (waarmee hy vastrap) val weg (buig), wat die meeste van die momentum absorbeer wanneer ek boul,” het die Protea Woensdag aan Netwerk24 gesê.

“Ek wou dit al die afgelope drie of vier jaar probeer regstel, maar baie ouens het gesê dit gaan te moeilik wees op my ouderdom.”

Ek wou dit al die afgelope drie of vier jaar probeer regstel, maar baie ouens het gesê dit gaan te moeilik wees op my ouderdom.
Dwaine Pretorius

Verlede jaar het hy besluit om die kritici verkeerd te bewys.

“Ek het met Anrich (Nortjé) gepraat en hy het gesê hy’t ook gesukkel met ’n voorste been wat collapse. Hy het dit reggemaak met die hulp van Piet Botha, sy boulafrigter by die Warriors en die Oostelike Provinsie.”

Pretorius het vanjaar ná die driespanwedstryd in Centurion op 17 Julie uitgereik na Botha, wat hom sedertdien ongelooflik bygestaan het.

Dwaine 2.0. Op dié foto uit die Lions se meerdagwedstryd verlede week teen die Cobras op die Wanderers kan duidelik gesien word hoeveel meer regop Pretorius se voorste been ná sy boultransformasie is. Foto: Gallo Images

“Dis al baie beter as wat dit was, ek boul met minder effort teen moontlik dieselfde vaart as verlede jaar. Nou verg dit harde werk om dit bestendig reg te kry. Ek kry dit al so 50% van die tyd reg.

“Dit was nou 15 weke se werk, dit het baie tyd gevat om teen die muscle memory te werk wat deur die laaste 20 jaar van boulwerk opgebou is.

“Ek is opgewonde om te sien hoe dit ontwikkel. Hopelik kan ek ’n bykomende jaar tot my loopbaan voeg, andersins sal dit ten minste beter wees vir die voorkoming van beserings en om minder spanning op my liggaam plaas.

“Hopelik sal dit vir my ook so ekstra vyf kilo’s per uur gee, dat my vinnigste aflewerings teen 135 km/h is en nie 130 km/h nie. Dit kan my ook help om meer wip te kry, want nou is ek hoër wanneer ek die bal aflewer.”

Hy sê dis moeilik om te sê of hy reeds vinniger boul, omdat daar nie ’n spoedmeter by meerdag-wedstryde is nie. Tog was dit verlede week in die Lions se wedstryd teen die Cobras opsigtelik dat sy voorste been meer regop bly wanneer hy die bal afstuur. Hy het ook nie enige van sy kenmerkende akkuraatheid ingeboet nie. En ja, op die oog af lyk hy reeds vinniger.

“Dit voel of dit die moeite werd is, want ek boul reeds met soveel meer gemak. Ek kom die oggende by die wedstryd aan sonder om seer en styf te wees.”

Dit voel of dit die moeite werd is, want ek boul reeds met soveel meer gemak. Ek kom die oggende by die wedstryd aan sonder om seer en styf te wees.
Dwaine Pretorius

Pretorius verduidelik dat dit ’n uitputtende en frustrerende proses is om ’n boulaksie ná soveel jaar te verander. Hy is ook bly hy het soveel tyd gehad om daaraan te werk. Aanvanklik het hy vermoed agt weke is al wat hy nodig sou hê.

“Eers het ek van een tree af probeer boul met ’n reguit voorste been, dan kry ek dit nie reg nie. Wanneer ek dit regkry, skuif ek terug na twee treë en dan moet jy weer oorbegin. En vandaar af skuif jy terug.

“Ek werk saam met Neels Liebel (fisioterapeut) in Centurion aan my kondisionering. Ek doen baie meer funksionele oefeninge, patrone en sulke goed. Om jou gewoontes te breek, moet ’n mens baie isometriese oefeninge doen.”

Hy het baie geleer in die proses en agtergekom hoe verkeerd ’n mens soms van kleins af geleer word.

“Mense moenie net glo as iemand vir hulle sê dit kan nie gedoen word nie. Jy moet altyd streef om beter te wees, om daai ekstra vyf of tien persent te verbeter.

“As jy die grootste hoogstes wil bereik, moet jy aanhou verbeter.”

• Pretorius is in die Protea-witbalgroep wat dié week in die Kaap saamtrek vir hul T20- en eendagreekse teen Engeland.

Meer oor:  Dwaine Pretorius  |  Suid-Afrika  |  Krieket  |  Protea  |  Transformasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.