Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Protea se masker op veld verbied

Die Internasionale Krieketraad (IKR) het ’n stokkie gesteek voor Tabraiz Shamsi se eiesoortige wyse waarop hy van sy paaltjies vier.

Tabraiz Shamsi vier ’n paaltjie met die masker wat hy nie meer mag dra nie. Dít was in ’n wedstryd in die Karibiese Premierliga vroeër vanjaar. Foto: Getty Images

Dié links-goëlbouler van die Proteas en die Paarl Rocks in die Mzansi-superliga (MSL) is voor Woensdag se wedstryd teen die Tshwane Spartans in Centurion verbied om sy maskerviering uit te voer.

In die vorige wedstryd van die Rocks teen die Durban Heat het Shamsi, nadat hy ’n paaltjie geneem het ’n kopdoek onder sy hemp uitgepluk en dit as ’n masker oor sy gesig gebind sodat net sy oë uitsteek as deel van sy feesviering.

Hy het hierdie buitengewone viering die eerste keer gebruik toe hy vroeër vanjaar in die Karibiese Premierliga gespeel het.

Gerrie Pienaar, die wedstrydskeidsregter by Woensdag se wedstryd, sê videomateriaal van Shamsi se maskerviering Sondag in die Paarl is na die IKR gestuur en daar is bevind dat dit nie toelaatbaar is nie aangesien die gevoel bestaan dat dit die spel oneer aandoen en nie respek teenoor teenstanders toon nie.

“Die gevoel is as hy (Shamsi) toegelaat word om daarmee voort te gaan, sal ander spelers ook met allerlei ander en snaakse maniere vorendag kom om hul paaltjies te vier en dat dinge so handuit kan ruk.

“Daar moet steeds respek teenoor ’n kolwer wees wat nou net uitgehaal is. Daarom het ek voor die wedstryd met hom gepraat en vir hom verduidelik hy mag dit nie doen nie en dat dit onaanvaarbare gedrag is. Sou hy daarmee voortgaan, sal daar tugstappe teen hom gedoen word,” sê Pienaar.

Shamsi, wat toe boonop die Rocks se suksesvolste bouler was en 3/18 geneem het, het erken hy was beslis van plan om sy maskerviering vir die Centurion-skare te wys.

Ek probeer pret hê met my vieringe en dit is beslis nie omdat ek oneerbiedig teenoor ’n kolwer wil wees nie.

“Daar is soveel druk op jou as bouler in ’n wedstryd, dat ek voel my viering van ’n paaltjie is ’n uitlaatklep. Ek probeer pret hê met my vieringe en dit is beslis nie omdat ek oneerbiedig teenoor ’n kolwer wil wees nie.

“Ek probeer ook uniek wees met die wyse waarop ek dinge op die veld doen,” het hy met ’n glimlag gesê.

Shamsi het AB de Villiers Woensdag met ’n uitstekende aflewering geboul en hoewel hy met sy hande langs sy lyf soos ’n voël gevlieg het, sou sy viering van daardie besondere paaltjie beslis meer uitspattig gewees het indien hy toegelaat sou word om sy masker te dra.

Volgens Pienaar is Shamsi se viering waar hy sy stewel uittrek en dan maak of dit ’n selfoon is en hy ’n oproep maak, wel nog aanvaarbaar en toelaatbaar.

Jacques Faul, die uitvoerende hoof van die Titans en die Spartans in die MSL en ook een van die land se voorste krieketadministrateurs, sê daar is ’n fyn lyn in hierdie saak.

“ ’n Mens besef die reëls moet nagekom word en die spel moet eerbiedig word, maar jy het tog ook karakters soos Shamsi nodig, wat dit meer opwindend vir die toeskouers maak.

“Hy is iemand wat pret in die spel sit en is ’n ware vermaaklikheidster op die veld. Jy wil nie daardie oorspronklikheid en inisiatief ontmoedig nie,” reken Faul.

Meer oor:  Mzansi-Superliga  |  T20  |  Toetskrieket  |  Msl  |  Eendagkrieket  |  Proteas  |  Tabraiz Shamsi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.