Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Protea-snellers laat Pakistan spyt kry

Pakistan het die besluit van hul kaptein, Sarfraz Ahmed, om te kolf nadat hy die loot gewen het, sommer al Woensdag in die eerste skof berou deurdat hulle op 76/4 gaan eet het.

Duanne Olivier het twee paaltjies in die oggendsessie van die eerste toets teen Pakistan platgetrek.Foto: Reuters

Die besoekers se middagmaal sou glad nie baie aptytwekkend geproe het nie, met die top-orde wat reeds afgemaai is deur die vurige Suid-Afrikaanse snelaanval op die eerste oggend van die eerste toets voor ’n groot skare op SuperSport-park in Centurion in die Kerstoets.

Met die aandag gevestig op Dale Steyn (1/26), wat net een paaltjie nodig gehad het om Shaun Pollock verby te steek as die Suid-Afrikaanse bouler met die meeste toetspaaltjies (422), was dit Kagiso Rabada (1/31) wat eerste toegeslaan het in die tweede boulkbeurt van die toets, sy eerste, toe hy Imam-ul-Haq (0) been voor paaltjie betrap het.

Dale Steyn word deur Kagiso Rabada op die skouers gedra ná hy Suid-Afrika se grootste paaltjievraat in toetsgeskiedenis geword het.Foto: Deaan Vivier

Ná 28 minute se spel en met die eerste aflewering van sy vierde boulbeurt het Steyn daardie rekord-paaltjie geneem toe die ander aanvangskolwer Fakhar Zaman (12) op derde glip gevang is deur Dean Elgar.

Zaman het in die vorige boulbeurt van Steyn by twee geleenthede buite die wegpen visgevang na Steyn-aflewerings, en dit net rakelings gemis.

Toeskouers by SuperSport-park in Centurion het Dale Steyn se paaltjie-mylpaal saam met hom gevier.Foto: Deaan Vivier

Azhar Ali (31*) en Shan Masood (19), wat ingebring is om die beseerde Haris Sohail te vervang, het die beurt effe herbou met ’n vennootskap van 37 lopies om die derde paaltjie, voordat Duanne Olivier (2/19), wat met groot vuur vanaf die Hennopsrivier se kant af geboul het, vir Masood skoongeboul het.

Hy het nie lank daarna nie ook vir Asad Shafiq (7) been voor paaltjie betrap en voor ete het die besoekers reeds albei hul verwysings gebruik en nie met een sukses behaal nie.

Ali het gemaklik na Pakistan se beste kolwer gelyk op ’n blad wat heelwat wip en vaart gehad het en waar dit veel meer produktief was om die bal in die hand te hê as die kolf.

Meer oor:  Dale Steyn  |  Fakhar Zaman  |  Shaun Pollock  |  Duanne Olivier  |  Centurion  |  Supersportpark  |  Kriekettoets  |  Pakistan  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.