Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Protea-vroue kan WB wen, sê Mignon
Danielle Wyatt van Engeland wens Mignon du Preez geluk nadat sy die wenlopies aangeteken het. Foto: Getty Images

Om tweede viool teen Engeland te speel is iets waarmee die Suid-Afrikaanse vrouekrieketspeler Mignon du Preez goed bekend is en daarom was die Proteas se oorwinning Sondag oor die einste Engelse vir haar ekstra soet.

Suid-Afrika het sy veldtog in die T20-Wêreldbeker-toernooi met ’n knal begin deur Engeland, ’n voormalige kampioen en drie keer finalis in dié toernooi, met ses paaltjies in Perth te klop.

Dit is die eerste keer in vier probeerslae dat die Proteas daarin kon slaag om Engeland in ’n T20-WB te klop. In al drie die vorige wedstryde (2010, 2014 en 2018) was die 30-jarige Du Preez deel van die span.

“Jy kan die glimlag op my gesig sien. Dit is lekker om hulle uiteindelik in ’n IKR (Internasionale Krieketraad)-toernooi te klop. Dit is die sewende toernooi waarin ek speel en ons het nog nooit naby daaraan gekom nie.

Daar was ’n paar nagmerries in die verlede, maar dit is lekker en opwindend om dit agter ons te sit en aan te beweeg.
Mignon du Preez

“Daar was ’n paar nagmerries in die verlede, maar dit is lekker en opwindend om dit agter ons te sit en aan te beweeg,” sê Du Preez.

Vir dié boorling van Pretoria en voormalige kaptein van die nasionale span was die geleentheid om ’n ander rede ook spesiaal.

Sy het in die laaste boulbeurt waarin nege lopies benodig is die wenlopies gemoker.

Pure koelkop het sy ’n ses van die derde bal geslaan en dit opgevolg met ’n vier.

Dit boonop in haar 100ste T20-wedstryd vir die Proteas. Sy is die eerste Suid-Afrikaanse vrou om dié prestasie te vermag.

Mignon du Preez praat Sondag op die nuuskonferensie ná die Proteas se oorwinning oor Engeland. Foto: Getty Images

“Ek het al genoeg wedstryde in my loopbaan gespeel om in belangrike wedstryde die groot oomblikke aan te gryp. Dit is regtig spesiaal om dit te kan doen en ’n bydrae tot die span te kan lewer.

“Om 30 te word, het my baie gehelp om te groei. Uittrede is onafwendbaar, so ek wil net seker maak dat ek die volgende paar jaar pret het,” sê Du Preez, wat haar debuut in 2007 vir Suid-Afrika gemaak het.

Suid-Afrika se volgende wedstryd in Groep B is Vrydag teen Thailand in Canberra, waarna Pakistan Sondag in Sydney aan die beurt kom.

Die sege oor die Engelse sou die Proteas laat glo het dat glorie binne hul bereik is. Hulle kon slegs een keer tevore – in 2014 – die halfeindstryd van dié toernooi haal.

“Dit gee ons die nodige selfvertroue om een stap verder te gaan as die halfeindronde en die Wêreldbeker-trofee huis toe te neem.

“Ons weet ons is goed genoeg, ons moet net goed speel en onsself geniet,” sê Du Preez.

Meer oor:  Dane Van Niekerk  |  Mignon Du Preez  |  Suid-Afrika  |  Australie  |  Krieket  |  Protea-Vroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.