Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Protea-vroue kry groot pak in Indië
Laura Wolvaardt is een van slegs twee Proteas wat hond haaraf kon maak met die kolf. Foto: Getty Images

’n Sukkelvertoning met die kolf het die Suid-Afrikaanse vrouekrieketspan duur te staan gekom in die eerste eendagwedstryd in die reeks van drie teen sy eweknie van Indië.

Indië (165/2 in 41.4 boulbeurte) het Woensdag gemaklik met agt paaltjies in Vadodara gewen, nadat hy die Proteas vir net 164 in 45.1 boulbeurte uitgeknikker het.

Slegs Marizanne Kapp (54, 64 b) en die aanvangskolwer Laura Wolvaardt (39, 62 b) kon hond haaraf maak met die kolf.

Suid-Afrika was sommer vroeg-vroeg in sy kolfbeurt in die knyp toe Wolvaardt se aanvangsvennoot, Lizelle Lee, met die eerste bal van die besoekers se kolfbeurt been voor paaltjie betrap is.

Suné Luus, kaptein van Suid-Afrika, het ná die tyd gesê sy besef die teiken wat haar span met die kolf gestel het, was nie genoeg nie.

Ek dink ons het uiteraard net nie genoeg lopies op die telbord gehad nie. Ons het besluit om eerste te kolf en het gehoop om minstens 220 aan te teken.
Suné Luus

“Ek dink ons het uiteraard net nie genoeg lopies op die telbord gehad nie. Ons het besluit om eerste te kolf en het gehoop om minstens 220 aan te teken.

“Tog was daar positiewe aspekte in die wedstryd, soos Marizanne wat goed gekolf het – so ja, ons sien uit na die volgende wedstryd.

“Ons sal daarvan hou as ons middelorde lopies kan aanteken as die toporde dit nie doen nie,” sê Luus.

Indië se naatbouler Jhulan Goswami (3/33) het die beste vir die tuisspan met die bal gevaar.

Dit was egter nie net die Proteas se kolwers wat gesukkel het nie. Die besoekers kon slegs twee paaltjies laat kantel.

Die tweede wedstryd word Vrydag op dieselfde veld beslis.

Meer oor:  Suid-Afrika  |  Indië  |  Subkontinent  |  Proteas  |  Krieket  |  Toer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.