
Laura Wolvaardt was Woensdag een van die Proteas se uitblinkers in die sege met drie lopies oor Pakistan. Foto: Gallo Images
Die Suid-Afrikaanse vroue-krieketspan sal Saterdag met rasse skrede wil verbeter wanneer hulle Pakistan op Kingsmead in Durban in die tweede eendaagse wedstryd van hul reeks pak.
Die Proteas het die eerste wedstryd Woensdag met drie lopies gewen, maar dit was ’n vertoning, wat nie aan die verwagtinge voldoen het nie. Veral die Proteas se veldwerk was nie op standaard nie.
Die span het wel die verskoning gehad dat dit sy eerste internasionale wedstryd sedert die begin van Maart verlede jaar was.
Suid-Afrika het swaar geleun op sy groot name – Shabnim Ismael, Marizanne Kapp, Laura Wolvaardt en Mignon du Preez – en die breier, Hilton Moreeng, sal aandring op ’n beter vertoning deur die res van die groep.
Saterdag se wedstryd is die eerste “swartdag-eendagwedstryd.” Soos die Protea-mans jaarliks in ’n pienkdag-wedstryd speel om geld in te samel vir die stryd teen borskanker, word Saterdag se wedstryd gespeel om die stryd teen geslagsgebaseerde geweld uit te lig.
• Begintyd 10:00 (regstreeks op SS Cricket; kanaal 212). – Sportredaksie