Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Protea-vroue se Dané op krukkelys
Dané van Niekerk in aksie vir Suid-Afrika in ’n oefenwedstryd vroeër vanjaar voor die aanvang van die T20-Wêreldbekertoernooi in Australië. Foto: Getty Images

’n Besering gaan straks Dané van Niekerk, kaptein van die Protea-vrouekrieketspan, verhinder om volgende maand teen Pakistan te speel.

Krieket Suid-Afrika het Sondag ’n groep van 25 spelers aangewys wat van 8 tot 14 Januarie in Durban sal saamtrek vir ’n oefenkamp.

Daarna sal die groep verklein word na 18 spelers, voor die eerste eendagwedstryd in die reeks van drie op 20 Januarie op Kingsmead beslis word. Die spanne is daarna ook in drie T20-wedstryde slaags.

Die 27-jarige Van Niekerk, wat verlede week se T20-Superliga op Nuweland misgeloop het, en Chloe Tryon se name verskyn nie op die lys nie. ’n Woordvoerder van KSA het bevestig dat die twee beseer is.

Suné Luus tydens ’n oefensessie van die Proteas in Julie in Pretoria. Foto: Gallo Images

As Van Niekerk nie kan speel nie, is daar ’n aantal spelers wat met die kapteinskap toevertrou kan word. Suné Luus en Mignon du Preez het albei tevore die nasionale span aangevoer.

Tog is daar in Van Niekerk se afwesigheid steeds ’n sterk groep wat staatmakers soos Shabnim Ismail, Laura Wolvaardt, Lizelle Lee, Marizanne Kapp, Luus en Du Preez insluit.

Hilton Moreeng, afrigter van die nasionale span, en sy medekeurders het wel ’n paar spelers wat in die Superliga uitgeblink het, vir hul goeie spel beloon.

Een van diegene is Nobulumko Baneti, ’n 21-jarige naatbouler van Grens, wat die voorste paaltjievraat op Nuweland was waar sy sewe kolwers laat terugstap het. Sy het nog nie tevore vir Suid-Afrika gespeel nie.

Dan is Kirstie Thomson, wat in 2011 die laaste keer vir die Proteas gespeel het, ook met ’n plek in die groep beloon. Sy het in twee kolfbeurte verlede week in Kaapstad tellings van 38 en 53 aangeteken.

Ons het ’n uitstekende mengsel van ervare Proteas en ’n paar opwindende jong spelers wat regtig oor ongelooflike talent beskik.
Hilton Moreeng

“Ons het ’n uitstekende mengsel van ervare Proteas en ’n paar opwindende jong spelers wat regtig oor ongelooflike talent beskik,” sê Moreeng in die verklaring.

“Ek is bly vir die geleentheid om die terugkeer tot internasionale krieket te maak en ook vir die verbintenis van die spelers se kant af.

“Sowel as die gretigheid van die nuwe spelers om betrokke te raak. Dit gaan moeilik wees om 18 spelers uit hierdie groep te kies.”

Protea-groep vir oefenkamp:
Lizelle Lee, Laura Wolvaardt, Trisha Chetty, Mignon du Preez, Shabnim Ismail, Suné Luus, Ayabonga Khaka, Masabata Klaas, Nadine de Klerk, Tumi Sekhukhune, Sinalo Jafta, Lara Goodall, Andrie Steyn, Robyn Searle, Nonkululeko Mlaba, Faye Tunnicliffe, Tazmin Brits, Anneke Bosch, Nondumiso Shangase, Nobulumko Baneti, Khayakazi Mathe, Evodia Yekile, Marizanne Kapp, Jané Winster, Kirstie Thomson.
 
Meer oor:  Hilton Moreeng  |  Dane Van Niekerk  |  Sune Luus  |  Suid-Afrika  |  Pakistan  |  Beseer  |  Protea-Vroue  |  Reeks  |  Vrouekrieket  |  Oefenkamp  |  Kaptein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.