Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Protea-vroue se kalender nog leeg

Daar is tans geen bevestigde toere vir die Protea-vrouekrieketspan op die horison nie, ten spyte daarvan dat dit slegs ’n paar maande voor die aanvang van die Wêreldbeker-toernooi is.

Dané van Niekerk se peil is goed in Engeland, waar sy vir die Oval Invincibles in The Hundred speel. Foto: Getty Images

Hilton Moreeng, afrigter van die nasionale vrouespan, het Woensdag op ’n nuuskonferensie wel gesê dat daar moontlik binnekort nuus in dié verband kan wees.

Die WB-toernooi in eendagkrieket begin op 4 Maart 2022 in Nieu-Seeland. Sedert die Proteas in Maart vanjaar uit Indië teruggekeer het ná ’n suksesvolle toer, was die span nog nie weer in aksie nie.

Daarteenoor is spanne soos Engeland en Indië aan die werskaf en het hulle nog vroeër vandeesmaand teen mekaar gespeel.

“Ons het vertroue in ons bedryfspan. Hulle werk hard om toere vas te maak. Daar was beloftes hier en daar (van toere), maar niks is nog bevestig nie,” sê Moreeng.

“Maar ons behoort in die volgende week of twee te weet wat gaan vir wat.”

Laura Wolvaardt in aksie vir die Northern Superchargers, die span wat sy in The Hundred verteenwoordig. Foto: Getty Images

Tog is ’n hele rits van die land se voorste spelers, soos Dané van Niekerk, Marizanne Kapp, Lizelle Lee, Mignon du Preez en Laura Wolvaardt, tans in Engeland in The Hundred in aksie.

Van Niekerk, die nasionale span se kaptein, het hoeka die toer na Indië weens ’n rugbesering misgeloop. Haar peil in Engeland is tans goed. Sy speel en voer die Oval Invincibles aan en het beurte van 56* en 29 met die kolf aangeteken, terwyl sy in een wedstryd ook 3/30 met die bal platgetrek het.

Hoewel die formaat van dié toernooi verskil van dit wat op die WB op die Proteas wag, is Moreeng bly dat die spelers wedstrydoefening kry.

“Vir ons as ’n span is dit goed omdat hulle aan mededingende krieket deelneem. Enige vorm van krieket is welkom. Dit is vir ons belangrik dat die gaping nie vergroot in terme van mededingende krieket nie,” sê Moreeng.

Dit is darem nie asof die spelers wat deel van die nasionale opset is, maar nie in Engeland in aksie is nie, ledig is nie. Dié spelers woon vandeesweek ’n oefenkamp in Pretoria by.

“Ons is tevrede met hoe dinge verloop. Die afgelope twee dae was baie goed, die spelers is in ’n goeie toestand. Hul fiksheid is goed, dit is een aspek waaraan ons kon werk,” sê Moreeng.

“Dit is iets wat ons kan beheer. Vir ons is dit belangrik om nou geleenthede vir spelers te skep om te speel.”

Meer oor:  Protea-Vroue  |  T20  |  Vrouekrieket  |  Eendagkrieket  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.