Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Protea-vroue trap Indië se tjank af

Met ’n omgesukkelde Lizelle Lee en Laura Wolvaardt aan die spits het die Protea-vrouekrieketspan die eerste eendagwedstryd teen Indië in ’n japtrap gewen.

Suid-Afrika het die Indiërs Sondag met agt paaltjies in Lucknow geklop.

Lizelle Lee (links) en Laura Wolvaardt het die Indiese boulers laat les opsê. Foto: Gallo Images

Die tuisspan is ingestuur om te kolf en is tot 177/9 in 50 boulbeurte beperk, waarna die Proteas 178/2 reeds in die 41ste boulbeurt bereik het.

Om te sê dat Lee (83*, 122 b, 11x4; 1x6) en Wolvaardt (80, 110 balle, 12x4) uitstekend was, is nie om te oordryf nie.

Hulle het op hul gemak voor die penne gelyk en gewys dat Protea-kolwers suksesvol op die subkontinent kán wees.

Maar dit was allermins slegs Lee en Wolvaardt wat uitgeblink het, met die boulers wat ook hul deel bygedra het.

Suné Luus, kaptein van die Proteas, se besluit om die tuisspan in te stuur om te kolf, het vroeg vrugte afgewerp. Op 18/2 was albei die tuisspan se aanvangskolwers, Jemimah Rodrigues (1) en Smriti Mandhana (14) terug in die paviljoen, nadat Marizanne Kapp en Ayabonga Khaka hul paaltjies ingeoes het.

Shabnim Ismail was Suid-Afrika se beste bouler. Foto: Gallo Images

Toe Shabnim Ismail boonop kort daarna vir Punam Raut (10 29 b) die trekpas gegee het, het Indië effens gesteier op 40/3.

Maar die tuisspan was glad nie lus om boedel oor te gee nie, en het met hul kaptein, Mithali Raj (50, 85 b), en Harmanpreet Kaur (40, 41 b) ’n terugvegpoging van stapel gestuur.

Toe hulle egter hul paaltjies verloor het, was die Indiese kolfbeurt bitter vinnig iets van die verlede.

Die tuisspan het van 154/4 tot op 175/9 in duie gestort.

Ismail was haar span se beste bouler met boulsyfers van 3/28. Sy is goed bygestaan deur die draaier Nonkululeko Mlaba wat 2/41 geneem het.

Hoewel Kapp (1/25) en Khaka (1/28) elkeen slegs een paaltjie platgetrek het, het hulle die Indiese kolwers ’n paar probleme besorg.

Die besoekers se veldwerk was, met die uitsondering van ’n blaps of twee, uitstekend en het beslis bygedra tot die sege.

• Die tweede wedstryd in die reeks van vyf word Dinsdag gespeel, ook in Lucknow.

Meer oor:  Lucknow  |  Laura Wolvaardt  |  Protea-Vrouekrieketspan  |  Lizelle Lee  |  Indië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.