Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Proteas: 5 lesse wat Boucher sou geleer het

Die Proteas se opmars na vanjaar se T20-Wêreldbeker-toernooi (T20-WB) het Woensdag nog ’n spoedbult getref met ’n tweede agtereenvolgende reeksnederlaag in dié formaat op tuisbodem.

Hoewel daar in die ses T20-stryde teen Engeland en Australië opflikkerings was, kon Suid-Afrika nie wen toe dit rêrig saak gemaak het nie, met die besoekers wat albei kere die beslissende wedstryde beklink het.

Mark Boucher, afrigter van die sukkelende Proteas, sou weliswaar ’n paar belangrike lesse in dié kragmetings geleer het.

CENTURION, SOUTH AFRICA - FEBRUARY 16: Quinton de
Quinton de |ock was al staatmaker in die Protea-kolforde.

1. Proteas maak te veel op De Kock staat

Dit was Woensdagaand op Nuweland vir almal duidelik. As Suid-Afrika enige kans sou staan om die uitdagende teiken van 194 lopies suksesvol te jaag, sou Quinton De Kock vir minstens 15 boulbeurte moes kolf.

De Kock is egter vroeg uitgehaal en die Proteas se kolfbeurt het toe ’n voorspelbare koers ingeslaan.

Suid-Afrika se sukses is al te lank afhanklik van De Kock se kolfwerk.

Sedert Hashim Amla se peil begin afneem en AB de Villiers nie meer beskikbaar was nie, was hy die een kolwer van wêreldgehalte oor in die span.

Sedert Hashim Amla se peil begin afneem en AB de Villiers nie meer beskikbaar was nie, was hy die een kolwer van wêreldgehalte oor in die span.

Dit maak dit egter maklik vir die teenstanders om Suid-Afrika te tem. Stuit De Kock en die stryd is meer as halfpad gewonne.

Geen wonder dat die Protea-breintrust so hard spook om De Villiers te oorreed om weer te speel nie.

2. Raadsaal-dramas eis tol op Faf

Die stres van die laaste ses maande se omwentelinge in Suid-Afrikaanse krieket het duidelik ’n negatiewe uitwerking op Faf du Plessis se kolfpeil gehad.

Tot en met die 2019 Wêreldbeker-toernooi in Engeland, was dié voormalige kaptein een van min kolwers op wie die Proteas kon staatmaak vir baie lopies.

Dit moes baie uit Du Plessis gehaal het om sake bymekaar te hou terwyl die Suid-Afrikaanse krieketskip op én van die veld af in troebel water was.

Die T20-WB is eers in Oktober en hopelik sal Du Plessis voor dan weer verfris wees en die lopiekraan oopdraai.

Temba Bavuma het gewys hy is ’n ideale aanvangsvennoot vir Quinton de Kock in T20-krieket.Foto: Gallo Images

3. Bavuma-afwesigheid laat leemte

Dit is iets wat niemand twee maande gelede sou gesê het nie.

Bavuma het egter in die reeks teen Engeland ’n uitstekende aanvangsvennootskap saam met De Kock gevorm. Hy teken lopies reg rondom die veld aan en verwissel ook die slag op voortreflike wyse. Sy hardloopwerk tussen die paaltjies en aanvoeling vir wanneer die regte tyd is om ’n lopie te steel, was ook eersteklas.

Tabraiz Shamsi se boulwerk teen Engeland en Australië in die afgelope T20-wedstryde was een van min ligpunte vir die Proteas.Foto: Gallo Images

4. Daar is darem ligpunte

Só teleurstellend soos die vertoning op Nuweland was, was daar darem ’n paar ligpunte onder die boulers. Die naatboulers het weer lelik deurgeloop met Aaron Finch en David Warner wat 114 lopies sonder verlies in die eerste 10 boulbeurte gemoker het.

Die boulers het daarna egter mooi teruggeveg, met Tabraiz Shamsi wat slegs 24 lopies in sy 4 beurte afgestaan het.

Boucher-hulle moet dit nou sterk oorweeg om Shamsi saam met die ervare Imran Tahir in te span in die T20-WB.

Albei het die vermoë om lopies te beperk in die middelbeurte én in die proses ook paaltjies plat te trek.

Dwaine Pretorius kon nog nie met die kolf vir die Proteas oortuig in T20-wedstryde nie.Foto: Gallo Images

5. Veelsydige spelers oortuig steeds nie

Nie Dwaine Pretorius of Andile Phehlukwayo het al genoeg gedoen om kritici te oorreed dat hulle goed genoeg is om met die kolf wedstryde vir Suid-Afrika te wen nie. Albei is voortreflike boulers, wat die span nie in die steek sal laat nie, maar gegewe die gesukkel van die kolflys móét jou veelsydige spelers in dié opsig ’n meer prominente rol met die kolf kan speel.

Meer oor:  Quinton De Kock  |  Mark Boucher  |  Suid-Afrika  |  Australie  |  Krieket  |  Proteas  |  Afrigter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.