Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Proteas, boul asseblief ’n streepbal!
Heinrich Klaasen het Sondag die beste gemaak van sy geleentheid in die Protea-span. Foto: Getty Images

3de T20-stryd, Centurion.

SA 222/6. Engeland 226/5.

Engeland wen met 5 paaltjies.

Boaan die lys van dinge wat voor die T20-Wêreldbeker (T20-WB) gedoen moet word: Suid-Afrika se boulers moet leer om streepballe af te stuur. Veral in die doodsnikke.

’n Mens het Sondag amper gedink jy moet weer na jou hartpille gryp – hier kom nóg ’n rillereinde. Maar dié keer het Engeland se krieketkaptein, Eoin Morgan (57*, 22 balle; 7x6), ondersteuners se senuwees gespaar van nóg ’n wedstryd wat met die laaste bal beslis word. Hy het Engeland met vyf aflewerings oor, oor die wenstreep gekry en die T20-reeks sodoende met 2-1 beklink.

As dié reeks enigsins ’n aanduiding is, gaan krieketondersteuners vanjaar wel nog goed vertroud raak met hul hartdokters. Die amper-hartaanvalle en stompaf-vingernaels sal wel die moeite werd wees as Suid-Afrika se doodsnikboulwerk ’n bietjie kan verbeter.

Eoin Morgan speel ’n hou in sy goeie beurt op SuperSport-park. Foto: AP

Maar Sondag was SuperSport-park eenvoudig ’n lopieparadys, vir albei spanne. Engeland het ook ’n ervare kolflys wat weet hoe om Everest-teikens te jaag.

Daarteenoor sit Suid-Afrika met ’n span gestroop van hul grootste sterre. Dit het dit vir jonger en meer onervare spelers moontlik gemaak om na vore te tree.

Dit is presies wat Heinrich Klaasen gedoen het met die eerste kans wat hy in meer as ’n jaar in ’n Protea-witbalspan gekry het.

Ná nóg ’n soliede grondslag van 84 in 7.4 beurte deur die aanvangspaar Temba Bavuma (49, 24 balle; 4x4, 3x6) en Quinton de Kock (35, 24 b; 1x4, 4x6), het Klaasen die voet op die versneller gehou. Hy het 66 lopies van 33 balle geblits (4x4, 4x6). David Miller (35*, 20 b) het die aflosstokkie by hom oorgevat en ’n goeie totaal is behaal.

Dit was ’n goeie kolfpoging en een van die positiewe uit dié reeks is die aanvangsvennootskap.

Herschelle Gibbs het Bavuma ná sy beurt van 31 (29 b) in Durban op Twitter gekritiseer en gesê De Kock het ’n aanvangsmaat nodig wat ook sesse kan slaan en die boulers onder druk plaas. Die ironie is dat Bavuma en De Kock se vennootskap in Durban 92 lopies in 7.5 beurte werd was. Wat meer wil jy hê?

Bavuma het Gibbs in elk geval met drie sesse beantwoord. Een daarvan was oor halfby na die langer kant van die veld, van Ben Stokes se eerste aflewering af.

Temba Bavuma het sy kritici se monde met drie sesse gesnoer. Foto: Getty Images

Bavuma en De Kock moet sekerlik die aanvangspaar by die T20-Wêreldbeker later vanjaar wees.

In Engeland se beurt is die wedstryd vir ’n wye ontwrig deur ’n handvol lugbesoedelingsaktiviste wat in superheld-uitrustings op die veld genael het. Later is ’n reuse- geel banier ook by een van die spreiligte drapeer. “Lugbesoedeling is nie net ’n speletjie nie!” het dit gewaarsku.

Dit was omtrent dieselfde tyd wat Jos Buttler (57, 29 b; 9x4, 2x6) en Jonny Bairstow (64, 34 b; 7x4, 3x6) met hul eie speletjies begin het en die lug met hul sesse begin besoedel het. Suid-Afrika se wenkans is toe reeds gesmoor. Engeland se kolflys het meer spierkrag as Dwayne “The Rock” Johnson en die vroeë verlies van Jason Roy het hulle niks gekos nie.

Buttler en Bairstow het vertrek, maar die mokermanne het net bly uitstap – Morgan, Stokes (22, 11), Moeen Ali (5*, 2 b) . . .

Lungi Ngidi was goed in die doodsnikke in Oos-Londen, maar nie in Durban nie en ook nie in Centurion nie. Hy het 2/55 in sy vier beurte afgestaan.

Die nederlaag is ’n bitter pil om te sluk, maar Engeland verdien krediet vir sy kolfwerk. Suid-Afrika se groep vir die T20-WB gaan boonop baie anders as dié een lyk. AB de Villiers (waarskynlik), Imran Tahir en Chris Morris gaan beskikbaar wees, en Kagiso Rabada en Faf du Plessis kom ook terug. Die vertonings van ’n speler soos Klaasen sorg nou vir lekker diepte en mededinging.

Die reeks teen Australië begin reeds Vrydag in Johannesburg en is nog ’n kans vir jonges om à la Klaasen hul kanse aan te gryp.

Engeland se toer het goeie krieket en lekker storielyne (dink: “jou vieroog-****” en “jou f**** kn*bh**d”) opgelewer. En met die immer omstrede Aussies reeds in die land, kan krieketondersteuners na nóg intrige uitsien. Ons sê nou tarra Ben en Jos, maar ons oefen solank: “Welkom terug, Dave en Steve. . . .”

Meer oor:  Krieket  |  T20-Reeks  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.