Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Proteas gedwee terwyl Engeland blom

“KG, moet tog net nie feesvier as jy ’n paaltjie vat nie!” het ’n gefrustreerde Protea-ondersteuner Vrydagoggend vanuit die St. Georgepark-paviljoen sarkasties geskree terwyl Kagiso Rabada na Ben Stokes en Ollie Pope geboul het.

Ben Stokes wys hierdie honderdtal is vir sy pa, Ged. Foto: Getty Images

Dié ondersteuner was, nes verskeie ander Suid-Afrikaanse krieketliefhebbers, goed die josie in oor die strafpunt wat Rabada toegedien is vir sy uitbundige feesviering ná Joe Root se paaltjie Donderdag. Hy gaan nou, weens vorige oortredings ook op sy dissiplinêre rekord, die vierde en laaste toets in Johannesburg misloop.

En nadat Engeland Vrydag die tweede dag van die derde toets in Port Elizabeth totaal oorheers het, lyk dit of die toets op die Wanderers een gaan wees wat Suid-Afrika moet wen. Waarskynlik om die reeks gelykop te laat eindig, aangesien Engeland sterk op pad is na ’n sege ná sy eerstebeurttelling van 499/9.

As die Proteas dit regkry om dié toets onbeslis te laat eindig, kan hulle die reeks in Johannesburg gaan beklink. Dean Elgar (32*) en die naguiltjie Anrich Nortjé (0*) kolf Saterdag met die telling op 60/2 voort en daar word ’n bietjie reën vir veral Sondag voorspel. Die blad is mak, so Suid-Afrika sal vashou aan ’n tikkie hoop.

’n Terneergedrukte Kagiso Rabada en Faf du Plessis. Foto: AP

So mak soos wat die blad is, net so mak, gedwee en vuurloos was die Proteas Vrydag. Die ontstelde ondersteuner het toe niks gehad om oor bekommerd te wees nie – Rabada (2/97) het niks gehad om oor fees te vier nie. ’n Mens wonder of die skorsing hom en die span negatief gemaak het.

Dit is waar dat Rabada, wat al ses keer deur die IKR gestraf is, nie sy les leer nie. Hierdie sal nie gebeur as hy padgee uit die kolwer se spasie nie. Maar wil ’n mens regtig jou groot, sterk snelbouler beteuel sien?

Faf du Plessis sal sê nee. Rabada is sy pitbull, nie ’n labrador nie.

Rabada het nie gevloek nie, hy het Root niks toegesnou nie, hy het nie eens na hom gekyk nie. Hy was naby aan die Engelse kaptein, maar is dit ’n halsmisdaad?

Die Proteas het gespeel soos ’n span wat met sulke vrae wroeg, maar Engeland moet krediet kry vir die vyfstervertoning van hul twee rooikoppe.

Stokes (120) en die 22-jarige Pope (135*) het Suid-Afrika met ’n vennootskap van 203 geknak.

Ollie Pope vier sy honderdtal. Foto: Gallo Images

Stokes het sy negende toetshonderdtal net voor middagete bereik en gevier deur sy handskoen uit te trek en die boonste lit van sy middelvinger in te trek, dat dit soos ’n stompie lyk.

Dit is ’n eerbetoning aan sy siek pa, Ged, wat sy vinger in sy rugbyliga-loopbaan moes laat afsny omdat hy nie geld gehad het vir ’n operasie nie.

Pope se eerste honderdtal is uitbundig gevier. Hy lyk na ’n toekomstige wêreldster. Nadat hy sy mylpaal bereik het, het hy begin pret hê. Hy het Rabada twee keer agtereenvolgens grens toe gejaag ágter Quinton de Kock verby.

Pope het letterlik omgedraai en die bal agtertoe geklap. Tot die groot vermaak van Stokes in die kleedkamer.

Pope word reeds as ’n toekomstige Engelse kaptein bestempel.

Sam Curran (44, 50 b) en Mark Wood (42, 23 b) het pret gehad en tot Suid-Afrika se lyding bygedra. Rabada se nagmerriedag het ’n bykomende laag bygekry toe hy Wood met sy telling op 25 laat uitvang het, net vir die kykweer om te wys dit was ’n foutbal.

Root het verklaar toe hy dink Wood is uit en toe summier “on-verklaar” sodat Wood verder kan gaan baljaar.

Terwyl hy baljaar het, het Keshav Maharaj gesweet vir sy geld. Hy het ’n allemintige 58 boulbeurte uit die 152 in die beurt afgestuur. Hy het met syfers van 5/180 geëindig.

Maharaj was onder druk met sy vertonings onlangs, maar kan baie tevrede voel met die werk wat hy verrig het.

Wat vreemd was, is dat Vernon Philander bykans glad nie gebruik is nie. Hy het slegs 16 beurte afgestuur. Die Proteas het gevoel hy gaan nie doeltreffend op dié stadige blad wees nie. Maar waarom speel hy dan?

Die Proteas kry Saterdag die kans om weer te veg soos wat hulle op die laaste dag op Nuweland het. Daar is ook ’n geleentheid vir iemand om Stokes en Pope dit na te doen. Die kolwers moet dit eenvoudig net benut.

Meer oor:  Ollie Pope  |  Ben Stokes  |  Proteas  |  Engeland  |  Toetsreeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.