Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Proteas het nou helde nodig, sê Kallis

Dit gaan moeilik wees om Dinsdag 312 lopies op Nuweland aan te teken, maar die Proteas sál enduit veg en nie sommer gaan lê nie.

Só het Jacques Kallis, Suid-Afrika se kolfkonsultant, Maandagaand gesê oor die groot taak wat op die tuisspan se kolwers op die laaste dag van die tweede kriekettoets teen Engeland wag.

Dom Sibley het ’n onoorwonne 133 lopies in Engeland se tweede beurt aangeteken. Foto: Getty Images

Die Proteas sal die vyfde en laaste dag op 126/2 in hul tweede beurt voortsit.

Ten spyte van die paaltjies wat om hom geval het, het Pieter Malan, aanvangskolwer van die Proteas, vir ’n waardevolle onoorwonne 63 lopies staande gebly.

Volgens Kallis is drie opsies nog moontlik in dié toets – ’n oorwinning vir Engeland óf Suid-Afrika, óf ’n onbesliste uitslag.

“Ek het al vreemde dinge in die spel gesien gebeur,” het Kallis gesê.

Engeland het kort ná middagete sy tweede beurt op 391/8 gesluit verklaar. Dit het aan die Proteas ’n rekord-wenteiken van 438 lopies vir ’n oorwinning gestel.

“Om eerlik te wees, al drie uitslae is nog op die tafel. Dit gaan moeilik wees om die wenteiken te jaag, maar dit is nie onmoontlik nie.

Dis sy eerste toets, maar dit lyk of hy al lank speel. Hy is ’n vegter en som die situasie goed op.
Jacques Kallis

“Ons gaan net normaal moet kolf en met die teepouse moet kyk of ons nog in die stryd is,” het Kallis gesê.

“Die plan is om soveel as moontlik aflewerings te trotseer, dan kan ons met die teepouse weer die situasie bekyk. Daar is geen rede waarom ons nié die dag kan uitkolf nie.

“Die oppervlak het ’n goeie een (om op te kolf) geword.”

Kallis was ook vol lof vir Malan wat in sy debuuttoets ’n vyftigtal behaal het.

“Dis sy eerste toets, maar dit lyk of hy al lank speel. Hy is ’n vegter en som die situasie goed op. Jy wil so iemand aan die begin van die kolfbeurt hê. Ek is ook baie beïndruk deur sy geestelike ingesteldheid.

“Môre sal ons dit aflewering vir aflewering neem. Dis so eenvoudig soos dit. As jy dinge vooruit gaan loop, kan jy jou fokus verloor op wat jy regtig moet doen,” het Kallis gesê.

“Daar is ouens (in die afrigtingspan) met ervaring wat al súlke situasies beleef het.

“Die spelers kan na ervare manne opkyk. Faf (du Plessis) is ook al deur sulke situasies, so die ouens sal ook na hom vir inspirasie kyk. Dit is ’n situasie wat helde van spelers kan maak.”

Ek het gisteraand tot 02:00 wakker gelê en dink aan daai 15 lopies wat ek vandag moes kry.
Dom Sibley

Dean Elgar (34) en Zubayr Hamza (18) is die twee Protea-kolwers terug in die kleedkamer.

Die Engelse kolwer Dom Sibley, wat ’n onoorwonne 133 aangeteken het, was uiters verlig om sy eerste toetshonderdtal aan te teken nadat die senuwees gepla het.

“Ek het gisteraand tot 02:00 wakker gelê en dink aan daai 15 lopies wat ek vandag moes kry,” het hy met ’n breë glimlag gesê.

“Nou voel dit ongelooflik en ek is net bly ek kon dit behaal. Ben (Stokes) se beurt het ook net die druk van my verwyder. Hy het die bal oor die veld geslaan en ek kon net my soort spel speel,” het Sibley gesê.

“Ek het nog nie ’n toetsoorwinning behaal nie, so hopelik kan ons môre die laaste paaltjies kry.

“Daar lê egter baie harde werk voor. Die bonus is dat ons vanaand reeds twee paaltjies gekry het.”

Suid-Afrika het die eerste toets in Centurion met 107 lopies gewen.

Meer oor:  Jacques Kallis  |  Nuweland  |  Toetskrieket  |  Kriekettoer  |  Kriekettoets  |  Proteas  |  Engeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.