Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Proteas hét planne gehad, sê Nortjé

Anrich Nortjé het Saterdag op die Wanderers met die bal uitgeblink, met die kolf sterk probeer staan. . . en is toe sommer ook gevra om die moeilike vrae op die nuuskonferensie te trotseer.

Nortjé was met syfers van 5/110 verreweg die beste Protea-bouler op die tweede dag van die vierde toets teen Engeland. Dit was ’n donker dag vir die Proteas – ’n dag waarop Engeland eers 400 opgestapel het en Suid-Afrika toe tot 88/6 laat insink het.

Anrich Nortjé vier een van sy vyf paaltjies op die Wanderers. Foto: Getty Images

Dit is onregverdig dat Nortjé antwoorde moes gee vir die vrotsige boulvertoning tydens Engeland se tiendepaaltjie-vennootskap van 82 lopies. Dit was immers Faf du Plessis se swak planne en Beuran Hendricks en Dane Paterson se vrot uitvoering wat Mark Wood (35*) en Stuart Broad (43) toegelaat het om te baljaar.

“Ons het planne gehad, maar ongelukkig het hulle die bal skoon getref. Ek weet nie, miskien is dit weer ’n gesprek wat ons kan voer as ons na alles kyk,” het Nortjé gesê.

Hendricks en Paterson is na alle uithoeke van die veld gemoker omdat hulle die bal kort en wyd geplant het, maar Nortjé sê niemand word kwalik geneem nie.

“Hulle is albei ervare, so hulle weet wat om te doen. Dit het net nie vir ons uitgewerk nie, maar ek is seker op enige ander dag sou dit uitgewerk het. Op ’n ander dag het ons dalk ’n randjie bygekry, maar dit het nie gebeur nie.

“Dit kon enigiemand wees, so ons neem niemand kwalik nie. Ons is ’n eenheid en dit is ons almal se verantwoordelikheid, nie net een of twee ouens s’n nie.

Ons het planne gehad, maar ongelukkig het hulle die bal skoon getref.
Anrich Nortjé

“Hulle het ’n klomp sesse geslaan. . . Ek het nie regtig die antwoorde nie.”

Was dit nie vir Wood en Broad se vennootskap nie, sou Engeland ’n eerstebeurttelling gekry het wat nie só uitdagend is nie. Maar dit lyk of enigiets meer as 200 soos ’n berg vir dié Protea-kolflys lyk.

Al is die span in ’n baie swak posisie, is die kleedkamer nie moeg en tam nie, verseker Nortjé.

“Daar is steeds energie. Ons moet nou net môre terugkom en weer veg.”

Al was dit ’n donker dag vir die span, is Nortjé verheug oor sy eerste oes van vyf paaltjies op toetsvlak.

“Dit is ’n ongelooflike gevoel. Ek dink al lank hieroor, so dit is lekker om die beloning van ’n vyfpaaltjie-oes te kry, veral in Suid-Afrika,” sê Nortjé.

“Dis wel nie lekker om hier te sit terwyl ons op die agtervoet is nie. Maar Engeland het baie goed gespeel, hulle verdien krediet.”

Meer oor:  Suid-Afrika  |  Proteas  |  Engeland  |  Toetsreeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.