Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Proteas teen middagete in moeilikheid
Dean Elgar het probeer laer trek op die eerste oggend van die tweede toets teen die Wes-Indiese Eilande. Foto: Gallo Images

Die Proteas was teen middagete in die knyp op die eerste dag van die tweede toets teen die Wes-Indiese Eilande in St. Lucia.

Suid-Afrika staan op 44/3, met Aiden Markram, Keegan Petersen en Rassie van der Dussen reeds terug in die kleedkamer ná die eerste sessie.

Die kolftoestande is weer soos in die eerste toets uiters uitdagend. Die Windies het weer, soos in die eerste toets, die loot gewen, maar hierdie keer liewer besluit om eerste te boul.

Dít was ’n wyse besluit en die tuisspan se snelboulers het onmiddellik bystand van die kolfblad gekry. Die bal het baie swaai en sywaartse beweging van die naat af getoon.

Markram (0) is in die tweede boulbeurt uit nadat hy ’n onnodige kaphou ná ’n Shannon Gabriel-aflewering gepoog het. Hy is op punt uitgevang en sal homself skop oor sy los hou.

Petersen (7) het ’n paar mooi dryfhoue gespeel, maar een te veel gepoog. Hy het hard gedryf ná ’n aflewering van Jayden Seales en is op die glip uitgevang.

Van der Dussen (4) het daarna saam met Dean Elgar (22*, 77 balle) probeer herbou, maar ’n oordeelsfout begaan en ’n aflewering van Jason Holder met rus gelaat. Die bal het sy wegpen getref.

Elgar en Kyle Verreynne (1*, 20 b) kolf ná die kort pouse voort.

Die wedstryd het 15 minute laat begin weens ’n nat buiteveld. ’n Paar minute is ook kort ná die aanvang weens ’n kortstondige reënbui verloor.

Meer oor:  Wes-Indiese Eilande  |  Krieket  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.