Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Proteas kan kies of hulle voor toets wil kniel
Nasionale krieketspelers het by die driespanwedstryd in Centurion verlede jaar gekniel in solidariteit met die Black Lives Matter-beweging. Foto: Gallo Images

Elke Protea-speler sal self kan besluit of hy voor Donderdag se eerste toets teen die Wes-Indiese Eilande in St. Lucia wil kniel om solidariteit met die stryd teen rassisme te betoon.

Sedert die Black Lives Matter (BLM)-beweging verlede jaar wêreldwyd in krieket begin vlamvat het, het die Proteas nog nie as ’n nasionale span gekniel nie, anders as byvoorbeeld Engeland, die Windies en Nieu-Seeland.

Die Proteas het voor hul toetsreeks teen Sri Lanka hul vuiste in die lug gehou om solidariteit met die stryd teen rassisme en diskriminasie te betoon. Foto: Gallo Images

Protea-spelers wat verlede jaar in Centurion in die driespanwedstryd gespeel het, het wel gekniel. Daar was groot reaksie daaroor en daarna het die span op ander maniere standpunt teen diskriminasie ingeneem.

Hulle het ’n groot banier wat rassisme en diskriminasie veroordeel, ten toon gestel in die reeks teen Engeland. Voor die eerste toets teen Sri Lanka in Desember het die span ’n gebalde vuis in die lug gesteek.

Die Windies het ’n groot teenrassisme-veldtog van stapel gestuur en deel daarvan is om te kniel.

Dean Elgar, die Proteas se nuwe toetskaptein, sê hulle wil die gasheerland se veldtog steun.

“Hierdie onderwerp was nogal ’n reis vir ons as ’n span,” sê Elgar.

“Ek, ons spanbestuurder (Volvo Masubelele), Kraigg Brathwaite (Windie-kaptein) en hul spanbestuurder het Dinsdag vergader nadat ons hulle genader het om ons aanslag te verduidelik.

“Ons het vir die spelers die vryheid gegee om enige gebaar te gebruik wat hulle verkies. As ’n speler gemaklik daarmee is om te kniel, mag hy.

“Spelers is ook geregtig om ons vorige gebaar, ’n gebalde vuis, te wys. En as spelers nog nie heeltemal gemaklik is nie, kan hulle op aandag staan, sodat ons steeds die veldtog kan respekteer.”

Spelers is ook geregtig om ons vorige gebaar, ’n gebalde vuis, te wys. En as spelers nog nie heeltemal gemaklik is nie, kan hulle op aandag staan, sodat ons steeds die veldtog kan respekteer.
Dean Elgar

Elgar sê die span het “ ’n lang pad gestap met hierdie onderwerp” en daar is steeds ’n paar spelers wat nie gemaklik daarmee is om te kniel nie.

Die Proteas het verlede jaar ná die driespanwedstryd ’n kultuurkamp in die Krugerwildtuin gehad, waar onder meer rassekwessies bespreek is. Sedertdien het die span ’n kultuur wat op inklusiwiteit geskoei is.

Wat sake op die speelveld self betref, heers daar onsekerheid oor die beskikbaarheid van Temba Bavuma, wat nog effens las het van ’n linkerheup-besering.

“Dit is ’n bekommernis op die oomblik,” sê Elgar.

Daar is nog kommer oor Temba Bavuma se fiksheid vir die eerste toets teen die Wes-Indiese Eilande. Foto: Gallo Images

“Gister was ’n groot dag vir hom en hy kry vandag ook ’n kans om sy fiksheid te bewys. Ons hoop Temba is fiks en gereed om te speel.”

As Bavuma fiks is, sal hy op nr. 5 kolf. Indien nie, sal Kyle Verreynne sy buiging maak.

“Kyle sal dan beslis in daardie posisie inkom. Dit pas hom, hy het daar gekolf vir die Cobras en hy is gewoond daaraan,” sê Elgar.

“Daar is ’n kans dat ons twee debutante in die span kan hê as Temba nie fiks is nie (Verreynne en Keegan Petersen).”

Proteas se waarskynlike 11-tal:

Dean Elgar (k), Aiden Markram, Keegan Petersen, Rassie van der Dussen, Temba Bavuma/Kyle Verreynne, Quinton de Kock, Wiaan Mulder, Keshav Maharaj, Kagiso Rabada, Anrich Nortjé, Lungi Ngidi.

• Begintyd: 16:00. Op SS Grandstand (201) en SS Krieket (212).


Meer oor:  Dean Elgar  |  Temba Bavuma  |  Suid-Afrika  |  Wes-Indiese Eilande  |  Krieket  |  Windies  |  Toets  |  Blm  |  Kniel  |  Gebalde Vuis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.