Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Proteas kan WB-slag in Kaap slaan

Ná ’n uiters teleurstellende internasionale somer, is daar Woensdagaand ’n laaste kans vir die Proteas om te wys dat hulle later vanjaar ’n krag kan wees wanneer die T20-Wêreldbeker-toernooi (T20-WB) in Australië beslis word.

Anrich Nortjé het in Port Elizabeth gewys dat hy op internasionale vlak ’n faktor in T20-krieket kan wees. Foto: Gallo Images

Quinton de Kock en sy makkers pak die Aussies in die derde en beslissende T20-stryd op Nuweland in Kaapstad. Die spanne is tans met 1-1 gelyk in die reeks.

Suid-Afrika het vroeër dié seisoen die toets- en T20-reekse teen Engeland verloor en die louere gedeel in die eendagreeks. Maar selfs in die eendagreeks kon die manne in Groen-en-goud nie die uitklophou plant nie. Suid-Afrika was met 1-0 voor in die reeks teen Eion Morgan se troepe en moes die laaste wedstryd wen om die reeks te beklink.

In die toetsreeks moes Suid-Afrika die laaste kragmeting op die Wanderers wen om ’n gelykop-uitslag af te dwing, maar het hy met 191 lopies verloor.

In die T20-reeks teen die Engelse moes die Proteas ’n telling van 222 lopies in die beslissende stryd in Centurion verdedig, maar Engeland het die wenlopies in die laaste boulbeurt met vyf paaltjies staande geslaan.

Sedert die treurmare by verlede jaar se WB-toernooi in Engeland steier Suid-Afrikaanse krieket van die een krisis na die volgende een.

Sukses in die T20-WB in Oktober sal salf aan baie wonde smeer, want sedert die treurmare by verlede jaar se WB-toernooi in Engeland steier Suid-Afrikaanse krieket van die een krisis na die volgende een.

Die verowering van die T20-trofee sal die Proteas help om ’n nuwe koers in te slaan en die publiek se verbeelding aangryp, soos Siya Kolisi, Rassie Erasmus en die res van die Springbokke verlede jaar met hul triomf in Japan gemaak het.

Die probleem is egter dat die Suid-Afrikaanse krieketspan met rasse skrede sal moet verbeter voordat hy sal kan droom van sukses in Australië.

En dit is waar Woensdagaand se beslissende wedstryd ’n groot rol kan speel. Dié wedstryd kan as ’n kleedrepetisie vir ’n moontlike uitklopwedstryd later vanjaar gesien word, want dieselfde drukbelaaide atmosfeer sal heers.

Quinton de Kock, die Proteas se kaptein. Foto: Getty Images

Op Nuweland is dit veral belangrik dat Quinton de Kock behoorlik deur sy top-orde ondersteun word. Dit is duidelik dat die Suid-Afrikaners ’n kans staan om enige wedstryd te wen wanneer hul kaptein lopies aanteken, maar wanneer hy die dag misluk, dan stotter die span.

Dit is waarskynlik hoekom almal so oorgehaal is om AB de Villiers te oorreed om ’n terugkeer te maak voor Oktober.

Terwyl daar steeds ernstige vrae oor die SA kolflys is, is daar darem positiewe tekens wat die Proteas se boulwerk betref.

Dit was ’n uiters doeltreffende boulvertoning deur die Proteas in Sondag se oorwinning in Port Elizabeth. Ngidi was die enigste SA bouler wat meer as 7.25 lopies per beurt afgestaan het, maar tog het hy die meeste paaltjies laat kantel.

Anrich Nortjé (1/24) het ook hand opgesteek in die kragmeting en indien hy op Nuweland daarmee kan volhard, kan hy nog ’n troefkaart vir die Proteas in dié formaat word.

Meer oor:  Quinton De Kock  |  Anrich Nortjé  |  Australië  |  Suid-Afrika  |  T20  |  Toetskrieket  |  Nuweland  |  Eendagkrieket  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.