Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Proteas klaar oor BLM gepraat

Die Protea-kamp voel hulle het hul standpunt oor die Black Lives Matter (BLM)-beweging nou genoegsaam verduidelik en wil graag aanbeweeg.

Rassie van der Dussen kolf verlede week in die nette op Nuweland. Foto: Gallo Images

Mark Boucher, die Protea-afrigter, het verlede week gesê die span voel hulle het reeds solidariteit met dié beweging betoon toe hulle in Julie by die driespanwedstryd in Centurion gekniel het. Hulle het ook gesprekke oor diversiteit by hul spankamp in Skukuza gehad en wil waardes van nierassigheid uitleef, liewer as om weer net te kniel in solidariteit met die beweging.

Hulle sal dus nie in die komende reeks teen Engeland kniel nie. As hulle swart armbande dra, sal dit in solidariteit met die geveg teen geslagsgeweld wees en om simpatie te betoon met die slagoffers van Covid-19.

Kagiso Rabada is Maandag weer oor die span se BLM-standpunt uitgevra. Dinsdag het Rassie van der Dussen die media te woord gestaan. Hy is gevra wie se besluit dit was om nie te kniel nie en wat die boodskap is wat dit aan Suid-Afrikaners uitstuur, maar het nie ’n kans gekry om te antwoord nie.

Dit was egter ’n gesamentlike besluit deur die span om nie te kniel nie en om na geslagsgeweld te kyk en onsself aan daardie saak toe te wy.
Kagiso Rabada

“As ek net gou kan intree, asseblief. Die besluit is deur die hele span gemaak. Die kwessie is in ’n spanvergadering bespreek,” sê Sipokazi Sokanyile, mediabestuurder.

“Dit voel of ons nou vir die afgelope twee mediakonferensies hierdie gesprek gehad het en ek sou graag wou hê ons moet ’n streep daaronder trek. Ons kan nie die heeltyd dieselfde vrae beantwoord nie.”

Kagiso Rabada tydens sy Zoom-nuuskonferensie Maandag. Foto: Gallo Images

Maandag het Rabada gesê hy sal altyd vir swart lewens, en alle lewens, opstaan.

“Dit was egter ’n gesamentlike besluit deur die span om nie te kniel nie en om na geslagsgeweld te kyk en onsself aan daardie saak toe te wy,” sê Rabada.

“Swart mense se lewe sal altyd saak maak, alle lewens sal altyd saak maak, en dit is iets waaraan ek altyd sal glo en ek praat hier namens myself. Maar Mark het gesê ons sal nie kniel nie en dit is hoe dit sal wees.”

Toe Van der Dussen Maandag weer oor krieketsake gepraat het, is hy uitgevra oor sy voorkeurposisie in T20-krieket. Van der Dussen het al op nommers een tot vier vir die Proteas in kitskrieket gekolf.

“Ek dink ek is op my beste op nr. 3, maar jy moet realisties wees; Faf (du Plessis) is wêreldklas op nr. 3. Ek sal dan sê waarskynlik nr. 4, want dit is soortgelyk,” sê Van der Dussen.

“Jy kan dan in die middelbeurte inkom, of dalk aan die einde en probeer skade maak. Ek voel ek beskik oor al daardie vermoëns.

As ek 20 lopies van 20 balle kan kry, sal dit baie beter wees as om 10 van 20 balle te hê.
Rassie van der Dussen

“Ek kan wel die beurt begin ook. Ek het hard gewerk om my swakpunte te verbeter, Mark Boucher was uitstekend en het vir my gesê in watter gebiede ek kan verbeter.

“Ek het hard daaraan gewerk in die winter en ek voel baie goed wat my tegniek en wedstrydplan betref.

“Die gebiede waarin ek moes verbeter, was die begin van my beurt, veral in eendagkrieket. Ek het gewoonlik my tyd gevat om in ’n beurt in te kom. Die plan was om by 10, 20 balle uit te kom, en nie te veel oor die lopies te bekommer nie, want ek kan opvang aan die einde.

“Maar as ek 20 lopies van 20 balle kan kry, sal dit baie beter wees as om 10 van 20 balle te hê.

“Die ander aspek waaraan ek gewerk het, was my kolfwerk teen draaiboulwerk in die middelbeurte. Ek het een of twee geringe veranderinge aangebring, wat my spel daar kan verbeter.”

Van der Dussen sê ook hy is nie te veel ontwrig deur die bioborrel waarin die Proteas moet funksioneer nie.

Hy is besig om Utopia for Realists – And How We Can Get There deur die Nederlandse skrywer Rutger Bregman te lees.

“Ek bestee ook tyd hieraan,” het hy gesê en ’n eksemplaar van Sappi se Birds of South Africa opgehou.

“Ek verbeter my kennis van voëls.”

Meer oor:  Krieket  |  Kagiso Rabada  |  Rassie Van Der Dussen  |  Kniel  |  Proteas  |  Geslagsgeweld  |  Blm
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.