Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Proteas klim fluks op ranglys ná Kaapse sege

Suid-Afrika se krieketspan spog nou met twee boulers, Kagiso Rabada en Vernon Philander, onder die voorste drie op die Internasionale Krieketraad se jongste ranglys vir toetskrieket-spelers.

Die Proteas se Vernon Philander appelleer op die eerste dag in Kaapstad vir die paaltjie van Imam-ul-Haq. Foto: Gallo Images

Die 23-jarige Rabada behou sy plek as die voorste bouler, terwyl Philander van die vierde na die gesamentlike derde plek opgeskuif het. Pat Cummins, snelbouler van Australië, deel die derde plek met dié Protea.

James Anderson, naatbouler van Engeland, is 19 punte agter Rabada in die tweede plek.

Nog ’n Protea, Duanne Olivier, het vier plekke op die lys geklim. Hy bevind hom nou in die 32ste plek.

Aiden Markram, aanvangskolwer van Suid-Afrika, is ná sy beurt van 78 teen Pakistan op Nuweland weer onder die voorste tien kolwers ter wêreld. Hy het sewe plekke geklim om nou die tiende plek te beklee. Die ander Protea in die toptien is Markram se aanvangsvennoot, Dean Elgar, wat in die agtste posisie is.

Indië se kaptein, Virat Kohli, is steeds die voorste kolwer, gevolg deur sy eweknie van Nieu-Seeland, Kane Williamson, wat 25 punte agter hom in die tweede plek is. Kohli se spanmaat Cheteshwar Pujara beklee die derde plek.

Duanne Olivier in Kaapstad. Foto: Gallo Images

Die Proteas se kaptein, Faf du Plessis, het ses plekke op die lys geklim en is nou in die 16de plek. Hy het in Kaapstad met die prys as Speler van die Wedstryd weggestap ná beurte van 103 en 3*.

Temba Bavuma bevind hom die eerste keer onder die wêreld se voorste 30 toetskolwers. Hy het vyf plekke geklim en beklee die 26ste plek saam met sy spanmaat Quinton de Kock.

Bavuma het in Kaapstad 75 lopies in Suid-Afrika se eerste kolfbeurt aangeteken. De Kock het desondanks ’n vyftigtal op Nuweland twee plekke geval.

Die ranglys vir lande is onveranderd, met Indië wat die steeds die voorste span is.

Ranglys: 

Kolwers: 1. Virat Kohli (Ind), 2. Kane Williamson (NS), 3. Cheteshwar Pujara (Ind), 4. Steve Smith (Aus), 5. Joe Root (Eng), 6. David Warner (Aus), 7. Henry Nicholls (NS), 8. Dean Elgar (SA), 9. Dimuth Karunaratne (SL), 10. Aiden Markram (SA). Ander Suid-Afrikaners: 16. Faf du Plessis, 26. Quinton de Kock, Temba Bavuma.

Boulers: 1. Kagiso Rabada (SA), 2. James Anderson (Eng), 3. Vernon Philander (SA), Pat Cummins (Aus), 5. Ravindra Jadeja (Ind), 6. Mohammad Abbas (Pak), 7. Trent Boult (NS), 8. Tim Southee (NS), 9. Ravichandran Ashwin (Ind), 10. Jason Holder (Win). Ander Suid-Afrikaner: 32 Duanne Olivier. 

Veelsydige spelers: 1. Shakib Al Hasan (Bang), 2. Ravindra Jadeja (Ind), 3 Jason Holder (Win), 4. Vernon Philander (SA), 5. Ben Stokes (Eng). 

Toetsranglys (punte tussen hakies): 1. Indië (116), 2. Engeland (108), 3. Nieu-Seeland (107), 4. Suid-Afrika (106), 5. Australië (101), 6. Pakistan (92), 7. Sri Lanka (91), 8. Wes-Indiese Eilande (70), 9. Bangladesj (69), 10. Zimbabwe (13), 11. Afganistan (0), 12. Ierland (0). – Sportredaksie 


    Meer oor:  Krieket  |  Ranglys  |  Ikr  |  Proteas
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.