Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
'Proteas klop Pakistan in derde rat'
Dean Elgar. Foto: Gallo Images

Dean Elgar, die Proteas se instaan-kaptein, glo die span was nie naby aan sy beste in die onlangse toetsreeks teen Pakistan, wat Suid-Afrika met 3-0 gewen het, nie.

“Ek het altyd gevoel ons speel teen so 70, 75 persent van ons vermoë. Die volgende doelwit is om nader aan 100 persent te beweeg,” het Elgar Maandag ná die laaste toets op die Wanderers in Johannesburg gesê.

“Die opwindende ding is dat ons steeds wen. Ek kan nie wag tot ons tussen 90 en 100 persent van ons vermoë speel nie.”

Suid-Afrika het die derde toets met 107 lopies gewen en Elgar het sodoende sy eerste sege as Protea-toetskaptein behaal. Hy het die Proteas twee jaar gelede op Lord’s teen Engeland aangevoer, in ’n toets wat Suid-Afrika verloor het.

Dit is ’n baie lekker gevoel. Dit is ’n lekker hoogtepunt in my loopbaan, nou kan ek darem sê ek het ’n 50%-wenrekord as ’n kaptein.
Dean Elgar

“Dit is ’n baie lekker gevoel. Dit is ’n lekker hoogtepunt in my loopbaan, nou kan ek darem sê ek het ’n 50%-wenrekord as ’n kaptein.

“Lord’s was steeds baie spesiaal, want dit is die tuiste van krieket. Maar hierdie is ’n toetssege en ek is baie trots daarop om die kaptein te wees.

“Dis lekker om te weet jy het nie jou spanmaats en jou land in die steek gelaat nie.”

Hy was vol lof vir Suid-Afrika se vier snelboulers – Dale Steyn, Kagiso Rabada, Vernon Philander en Duanne Olivier – wat die lewe vir Pakistan moeilik gemaak het.

Vernon Philander

“Ons is baie bevoorreg dat ons vier snelboulers het waarvan drie vinniger as 140 kan boul en Vernon (Philander) wat so akkuraat is.

“Dit is ’n goeie arsenaal om te hê. Ons het geweet ons moet ons sterkpunt – ons snellers – benut, want Pakistan geniet nie juis vinnige, aggressiewe kort aflewerings nie.”

Hy het ’n lansie vir Olivier gebreek, wat met 24 paaltjies in die drie toetse as die Speler van die Reeks aangewys is.

“Ons stap al ’n lang pad saam, ek was nog in Bloemfontein (by die Knights) toe hy daar aangekom het. Ek het gesien hoeveel hy ontwikkel het.

“Ek is baie trots op dit wat hy vermag het. Om hom in jou span te hê, is ’n groot pluspunt.”

Hoewel die Proteas se snelboulers deesdae baie krediet kry, het die kolflys self met tye goed vertoon in toestande wat vir die boulers voorberei word. Die hele topsewe het minstens een vyftigtal aangeteken, buiten Theunis de Bruyn, wat ’n beurt van 49 geslaan het, en Zubayr Hamza, wat 41 in sy debuuttoets in Johannesburg gekry het.

“Jy moet die toestande waarin ons speel, ontleed. Dit is baie moeilike kolftoestande,” sê Elgar.

Jy moet die toestande waarin ons speel, ontleed. Dit is baie moeilike kolftoestande.
Dean Elgar

“Ek wil graag dink ons kan steeds groot tellings aanteken (op moeilike kolfblaaie), maar dan moet jy jouself geestelik reg instel. Ons is wel tevrede met ons kolflys. Ons het ’n paar jong ouens wat nog hul voete vind, maar dit is belangrik om hulle meer kanse te gee.”

Tog wil hy graag sien dat Suid-Afrika meer honderdtalle aanteken.

“Ek dink jou beste kolwers sal steeds met ’n gemiddeld van meer as 45 spog, maar jy gaan nie so vrylik lopies op hierdie moeilike toestande aanteken nie.”

Meer oor:  Vernon Philander  |  Dean Elgar  |  Duanne Olivier  |  Suid-Afrika  |  Pakistan  |  Krieket  |  Reekssege  |  Wanderers  |  Proteas  |  Boulers  |  Kaptein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.