Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Proteas ‘kolf’ vir eers nog net voor spieël

Die krieketbedryf wag nou op goedkeuring van die departement van sport en ontspanning voordat spelers kan terugkeer oefenveld toe.

Wanneer presies hulle dié goedkeuring kan verwag, weet Krieket Suid-Afrika (KSA) self nog nie.

Rassie van der Dussen sien uit daarna om weer te begin krieket oefen. Hier voer die nasionale afrigter, Mark Boucher, vroeër vanjaar ’n boulmasjien terwyl Van der Dussen in ’n oefennet op die Wanderers kolf. Foto: Getty Images

Beroepsportspanne mag weer in vlak 3 van die Covid-19-inperking begin oefen, en wedstryde in nie-kontaksporte kan sonder toeskouers gespeel word, maar die land se krieketspelers het nog nie na die oefennette teruggekeer nie.

Die KSA se Covid-19-stuurkomitee het vandeesweek, soos wat die valk 3-regulasies vereis, protokol-voorstelle by die departement ingedien vir goedkeuring.

Eers wanneer die departement dié protokolle, wat veiligheidsmaatreëls by stadions vervat, goedkeur, sal spelers kan terugkeer na die oefenveld.

Jacques Faul, die KSA se waarnemende uitvoerende hoof, sê hulle hoop om spoedig uitsluitsel te kry.

Krieketspanne sal waarskynlik eers in klein groepies weer begin oefen. Hier trek die Cape Cobras vroeër vanjaar op ’n oefensessie saam. Foto: Gallo Images

Spelers raak uiteraard kriewelrig om weer te begin oefen. Die Protea-kolwer Rassie van der Dussen sien uit daarna om sy wilgerlat weer in die nette te laat klap, nadat hy vir twee maande na homself in die spieël moes kyk terwyl hy “skadukolf”.

“Daar is uiteraard nie veel wat ’n mens kan doen nie, maar ek het een of twee kolwe wat hier in die huis rondlê en ek loop gedurig en shadow bat. Ek kyk vir myself in die spieël en in die vensters en kyk na tegniese goed.”

Om te “skadukolf” is om alleen houe met ’n kolf te oefen. Die briljante Australiese kolwer Steve Smith is bekend daarvoor dat hy op enige plek en tyd “skadukolf”. Selfs laat in die aande alleen in sy hotelkamer, het van sy spanmaats al geskerts.

“Dis iets wat ouens soos Mark Boucher en Jacques Kallis sê hulle ook baie in hul tyd gedoen het,” sê Van der Dussen.

“ ’n Mens kyk na die klein goedjies, wat almal nie noodwendig van die buitekant af kan sien nie, maar wat jy as ’n speler kan voel.”

Van der Dussen vermoed die nasionale spelers sal eers by hul franchises oefen, voordat daar aan nasionale oefenkampe gedink kan word.

Terwyl Rassie van der Dussen nie in die nette kan oefen nie, ‘skadukolf’ hy maar in die huis. Foto: Gallo Images

Die Proteas se wegreeks teen Sri Lanka (Junie) is reeds uitgestel en ’n groot vraagteken hang oor die reeks teen die Wes-Indiese Eilande, wat veronderstel is om laat in Julie op die Karibiese Eilande te begin.

Die eerste moontlike internasionale krieket op tuisbodem kan ’n reeks van drie T20-wedstryde laat in Augustus teen Indië wees.

“Daar is nog baie maatreëls wat ingestel moet word. Die regering was baie tegemoetkomend deur te sê ons kan begin oefen en begin speel. Ek is seker hulle werk hard saam met die KSA om die finale maatreëls in plek te sit,” sê Van der Dussen.

’n Mens kyk na jou sogenaamde frustrasie en kyk dan na alles wat die afgelope week bo en behalwe die koronavirus in die wêreld gebeur het, en dan besef jy jou probleme is klein.
Rassie van der Dussen

“Niks is nog vas nie, maar daarna sal die oefeninge waarskynlik eers in klein groepe by van die groot stadions hervat, waar al die maatreëls toegepas word.

“Vir eers sal dit op ’n kleiner skaal wees en dan, afhangende van wat met die reisbeperkings gebeur, kan daar dalk later (nasionale) kampe gehou word.”

Jacques Faul, die waarnemende uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika. Foto: Gallo Images

Hoewel hy graag weer wil doen waarvoor hy lief is, is Van der Dussen bereid om geduldig te wees.

“Gefrustreerd is ’n sterk woord, maar as jy geruime tyd weg was van jou passie, wil jy dit graag weer gaan doen.”

Hy sê die gebeure van die afgelope week in Amerika, waar daar massabetogings teen rassisme plaasvind nadat ’n polisieman die dood van die swart Amerikaner George Floyd veroorsaak het, plaas dinge in perspektief.

“ ’n Mens kyk na jou sogenaamde frustrasie en kyk dan na alles wat die afgelope week bo en behalwe die koronavirus in die wêreld gebeur het, en dan besef jy jou probleme is klein. Daar is groter dinge wat gebeur in die wêreld.

“Jy hoop dan dat jy, sodra alles normaliseer, mense met ’n groter begrip sal hanteer en die klein dinge wat jy op ’n daaglikse grondslag doen, waardeer.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Krieket  |  Vlak 3-Inperking  |  Rassie Van Der Dussen  |  Proteas  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.