Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Proteas kry dalk Indiese kolfbreier
Enoch Nkwe, die Proteas se waarnemende spandirekteur, hou sake Woensdag in Pretoria by die Proteas se oefening dop. Foto: Gallo Images

Die Proteas gaan moontlik ’n Indiër as hul kolfafrigter aanstel vir hul komende toetsreeks in Indië.

Enoch Nkwe, die Proteas se waarnemende spandirekteur, het Woensdag in Pretoria daarop gesinspeel dat hulle praat met iemand wat die toestande in Indië goed ken om hulle by te staan vir die drie toetse.

Lance Klusener is as die kolfafrigter vir die T20-reeks aangestel, maar hy het homself reeds tot ander verpligtinge verbind en sal dus nie vir die toetsreeks in dié rol kan aanbly nie.

Suid-Afrika kan dus ’n strategie van Nieu-Seeland naboots. Die Kiwi’s het die voormalige Sri Lankaanse kolwer Thilan Samaraweera as konsultant betrek vir hul onlangse toetsreeks in Sri Lanka.

“Ons kyk daarna om iets soortgelyks te doen,” sê Nkwe.

“Ons kyk na iemand wat nie net uit ’n kolfoogpunt kan help nie, maar wat ons kan help met die spesifieke toestande betreffend draaiboulwerk, wat ons daar gaan moet trotseer.

“Ons wil seker maak ons eie draaiers word ook so goed as moontlik benut. Ons wil goed voorbereid wees in alle aspekte, nie net in een dissipline nie.

Ons wil seker maak ons eie draaiers word ook so goed as moontlik benut. Ons wil goed voorbereid wees in alle aspekte, nie net in een dissipline nie.
Enoch Nkwe

“Ons is amper daar, hopelik sal ons oor die volgende paar dae (die naam van die kolfafrigter) bekend maak. Daar is net ’n paar besonderhede wat ons moet uitklaar.”

Iemand wat die toestande in Indië ken, sal van onskatbare waarde wees in die Proteas se strewe om te vergoed vir die nagmerrietoer van 2015.

Die Proteas het boonop verlede jaar ook sleg verloor in ’n toetsreeks in Sri Lanka.

“Die ouens het seer oor wat onlangs in die subkontinent gebeur het,” sê Nkwe.

“Dit gaan nou oor hoe die spelers sake kan omkeer. In die volgende tydperk tot en met 2023, gaan daar baie krieket in die subkontinent gespeel word.

“Baie van daardie krieket is wel witbalkrieket, maar met die rooi bal is daar steeds baie op die spel, met die toetskampioenskap wat nou begin het.”

Die Proteas het nog nie toetskrieket gespeel op die drie velde waar die toetse in Oktober beslis word nie. Die Proteas sal vir die eerste keer in Visakhapatnam, Pune en Ranchi speel en Nkwe sê hulle berei vir die ergste voor.

“Ons berei voor vir toestande waar die bal baie gaan draai,” sê hy.

“As die bal dan nie draai nie, moet ons kan aanpas en weer speel soos ons altyd speel. Ons moet goed voorbereid wees vir watter toestande ons ook al gaan teëkom.

Faf du Plessis, die Protea-kaptein.

“Ons het wel nog nie op een van daardie velde gespeel nie, maar baie van ons spelers het al in die Indiese Premierliga (IPL) daar gespeel.”

Een van daardie spelers is die toetskaptein, Faf du Plessis. Nkwe is konstant in gesprek met Du Plessis, wat tans op ’n korttermyn-grondslag vir Kent in Engeland speel.

“Daardie inligting en inligting wat ons van ons ontleder, Prasanna Agoram, ontvang, gaan van kritieke belang wees wat betref hoe ons gaan speel.”

Nkwe sê dit is belangrik dat die Proteas op dié toer ’n bloudruk daarstel van hoe hulle voortaan wil speel.

“Ek hoop ek is in die toekoms steeds betrokke, maar indien nie, wil ons ’n bloudruk kan oorhandig aan wie ook al voltyds in die posisie gaan oorneem.

“Dit gaan dus nie net oor die hier en nou nie, maar ook oor die lang termyn. Hoe gaan ons as SA krieket sukses behaal?”

Meer oor:  Faf Du Plessis  |  Enoch Nkwe  |  Suid-Afrika  |  Indië  |  Reeks  |  Subkontinent  |  Proteas  |  Krieket  |  Toer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.