Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Proteas kweek gevaarlike boulaanval

’n Protea-boulaanval wat enige kolflys in die wêreld sal kan uitdaag, is besig om gestalte te kry.

Kagiso Rabada is die leier van dié aanval. Lungi Ngidi bring dissipline en vaardigheid en Anrich Nortjé aggressie en vaart.

Keshav Maharaj is een van die voorste draaiers in die wêreld en die veelsydige Wiaan Mulder het ’n geneigdheid om paaltjies plat te trek.

Lungi Ngidi word deur sy spanmaats Aiden Markram en Rassie van der Dussen gelukgewens met ’n paaltjie. Foto: Cricket West Indies

Dié vyftal is besig om amok te maak in die huidige toetsreeks teen die Wes-Indiese Eilande. In die Windies se eerste drie kolfbeurte van die reeks (twee in die eerste toets en een in die tweede) het die Protea-boulers slegs 408 lopies afgestaan en 30 paaltjies platgetrek.

Dit kom neer op ’n gemiddeld van 13,6 lopies per paaltjie.

Mark Boucher, hoofafrigter, en Charl Langeveldt, die boulafrigter, sal veral bly wees dat die span nie aangewese is op net een bouler om die paaltjies te neem nie.

Nortjé en Rabada is gesamentlik die voorste paaltjievrate met agt slagoffers elk. Ngidi het sewe paaltjies platgetrek, Maharaj vier en Mulder drie.

Die akkuraatheid en dissipline waarmee die ganse boulaanval boul, is verblydend. Daar sal altyd hier en daar ’n aflewering wees wat effe van die teiken af is, maar daar was nog nie ’n skof waar ’n mens gedink het sjoe, hier is Nortjé (byvoorbeeld) se radar heeltemal uit nie.

As kaptein gebruik Dean Elgar sy boulers ook goed. Ngidi deel die nuwe bal met Rabada en Nortjé word as die eerste aflosbouler ingespan. Sy taak is om skofte van vier boulbeurte af te stuur en aggressief te wees.

Maharaj kan gebruik word om die lopies te laat opdroog óf aan te val – soos in die Windies se eerste beurt van die tweede toets, waar hy syfers van 2/47 in agt beurte behaal het.

Mulder is dieselfde – hy kan ’n baie akkurate lyn boul en die kolwers frustreer, maar hy kry ook beweging deur die lug en van die naat af.

Soos in sy spogskof Saterdag, toe hy in vier beurte drie paaltjies vir slegs een lopie platgetrek het.

Mulder het die Windies se weerstand laat in die dag laat verkrummel en ’n reuse-aandeel daarin gehad dat hulle vir slegs 149 uitgeknikker is, vir ’n groot eerstebeurt-agterstand van 149 nadat die Proteas 298 in hul eerste beurt aangeteken het.

Rabada het gister gesê die boulers jag in ’n trop. Dit help ook dat die kolwers effe beter tellings as in die onlangse verlede opstapel en minder kolfineenstortings het (hoewel daardie probleem Sondag weer met 'n rampspoedige tweede kolfbeurt kop uitgesteek het).

Daar is tekens dat die span besig is om goed in gelid saam te werk.

Mulder sê die rede is eenvoudig.

“Iets wat ons as ’n span nou al vir die afgelope jaar goed doen, al het dit nie onmiddellik vrugte afgewerp nie, is om ongelooflik hard, teen ’n hoë intensiteit te oefen,” verduidelik Mulder.

“Dit begin nou wys, en hopelik kan ons daarmee aanhou, want iets kliek. Dít is half ons geheim en iets waarin Bouch baie glo – harde werk word beloon. Sonder dít gaan jy nie bestendig goeie vertonings lewer nie.

“Nóg iets sedert Dean oorgeneem het, is dat daar ’n fokus op kliniese en meedoënlose spel is. Hy glo daarin om nooit weg te kruip nie, dat ons ook nooit ná swak vertonings moet wegkruip nie.

“Ons moet eerlik wees met mekaar en kan praat oor wat aangaan. Ek dink dit is van die redes waarom ons nou goeie vertonings in die laaste twee toetse kon lewer. Hopelik kan ons daarop voortbou.”

Meer oor:  Wiaan Mulder  |  Keshav Maharaj  |  Toetskrieket  |  Kagiso Rabada  |  Anrich Nortjé  |  Proteas  |  Lungi Ngidi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.