Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Proteas maak skoonskip in T20-reeks

Verwoestende kolfwerk deur Quinton de Kock en Reeza Hendricks het die Protea-krieketspan gehelp om Dinsdag die derde T20-wedstryd teen Sri Lanka te wen en boonop skoonskip in die reeks te maak.

Suid-Afrika het met tien paaltjies in Colombo gewen om die reeks van drie wedstryde onoorwonne af te sluit.

Reeza Hendricks het saam met Quinton de Kock uitgeblink. Kusal Perera, paaltjiewagter van Sri Lanka, hou die vlug van die bal dop. Foto: Gallo Images

Sri Lanka het die loot gewen en besluit om eerste te kolf, maar kon net 120/8 in 20 boulbeurte bymekaarskraap.

Met die besoekers se aanvangskolwers, De Kock (59*, 46 balle) en Hendricks (56*, 42 b), aan die spits, het Suid-Afrika (121 sonder verlies) die wenlopies in die 14.4de beurt aangeteken. Die twee het op gemak voor die penne gelyk en min moeite ondervind om die verlangde lopies aan te teken.

De Kock is nie net as Speler van die Wedstryd nie, maar ook as Speler van die Reeks aangewys. In die eerste twee wedstryde het hy tellings van 36 en 58* met die kolf aangeteken.

Dit is die Proteas se sewende agtereenvolgende oorwinning in T20’s. Dit is die tweede keer dat Suid-Afrika onoorwonne in sewe agtereenvolgende T20-wedstryde is, volgens howstat.com. Die vorige keer dat die Proteas dié prestasie kon vermag, was in 2009.

In Sri Lanka se kolfbeurt het die snelbouler Kagiso Rabada reeds in die tweede boulbeurt toegeslaan toe hy Avishka Fernando (12, 8 b) van sy eie boulwerk af uitgevang het. Dit het aanvanklik gelyk asof Fernando die streepbal wat na hom geboul is direk in die grond vasgeslaan het. Rabada het egter geappelleer.

Sri Lanka se Dhananjaya de Silva word Dinsdag deur Quinton de Kock van Bjorn Fortuin se boulwerk gestonk. Foto: Gallo Images

Die skeidsregter het die beslissing verwys en dit was op die kyk-weer duidelik dat die bal direk van Fernando se kolf na Rabada se hande is.

Skaars was Fernando terug in die kleedkamer, toe word Dhananjaya de Silva (1, 3 b) deur De Kock van Bjorn Fortuin se boulwerk gestonk.

Op 19/2 in die derde boulwerk het dinge maar droewig vir die tuisspan daar uitgesien.

In die vierde boulbeurt het Rabada weer toegeslaan deur Bhanuka Rajapaksa (5, 6 b) se bypen te laat trek. Op 28/3 het die Sri Lanka seker gewonder wie tot hul redding gaan kom.

Dit het gelyk asof Kusal Perera en Kamindu Mendis die kastaiings vir Sri Lanka uit die vuur gaan krap. Die twee het 34 lopies om die vierde paaltjie aangeteken voordat Mendis (10, 16 b) sy paaltjie in die tiende boulbeurt verloor het. Die tuisspan was toe op 62/4.

Toe Perera (39, 33 b) in die 13de boulbeurt been voor paaltjie deur Keshav Maharaj betrap word, was dit duidelik dat die tuisspan se fut uit is.

Rabada (2/23 in drie boulbeurte) en Fortuin (2/21 in vier) het die beste vir die besoekers met die bal gevaar.

TELKAART

Meer oor:  Sri Lanka  |  Krieket  |  T20  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.