Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Proteas: Maharaj hou asem op oor span

’n Groot vraag voor die eerste toets teen Sri Lanka is of die Proteas Woensdag in Durban gaan hou by die wenresep van die afgelope toetsreeks teen Pakistan, deur wéér nie ’n erkende draaier te kies nie.

Keshav Maharaj oefen Maandag op Kingsmead. Hy hoop om speelkans teen Sri Lanka te kry in die eerste toets, wat Woensdag begin. Foto: Gallo Images

Die hotklou-wegbreekbouler Keshav Maharaj het nie in die laaste twee toetse teen Pakistan speelkans gekry nie (die Proteas het vier naatboulers gekies) en brand om op sy tuisveld, wat slegs sy tweede toetswedstryd daar sal wees, te speel.

Maharaj (29) klink dalk so bietjie na ’n verkoopsman deur daarop te wys dat Kingsmead nie meer die kolfblad van vervloë dae het nie.

“Kingsmead is nie meer daardie swaai- en vinnige boulersblad van 15 tot 20 jaar gelede nie. Die bal skiet nou beduidend stadiger deur as vroeër jare. Dit het deesdae meer ’n spel van geduld hier geword.”

Hiermee het hy daarop gesinspeel dat ’n spesialis-draaier ’n móét in die Proteas se finale elftal is.

Hy gee wel toe die “son kan die blad hard bak, wat dit vinniger as gewoonlik kan maak.”

Maharaj het erken hy het min van Sri Lanka se afgelope toetsreeks teen Australië te siene gehad.

Ná wat Mitchell Starc en Pat Cummins daar gedoen het aan die beleërde Sri Lankaanse kolwers, wat opnuut uitgedun hier aangekom het, sal die versoeking groot wees vir die Suid-Afrikaanse ringkoppe om met hul vier snellers te volhard.

Maharaj is dit eens dit het vrugte afgewerp teen Pakistan en dat die keurders “in die kol was daarmee”.

Dit is ’n bietjie frustrerend om weggelaat te word wanneer jy voel jy is op jou beste wat jou spel betref.
Keshav Maharaj

Hoewel hy begrip het dat sekere keuses gemaak word gedagtig aan wie hul teenstander is, is hy te verstane ook gefrustreerd daardeur.

“Dit is ’n bietjie frustrerend om weggelaat te word wanneer jy voel jy is op jou beste wat jou spel betref. Dis soos dit gaan in krieket en dis iets wat ’n beroepspeler te wagte kan wees,” sê hy filosofies.

Hy hoop intussen sy kans sal kom en sê dat hy reg sal wees as daar op sy knoppie gedruk word.

Maharaj sê hy en die Protea-afrigter, Ottis Gibson, en die spanbestuurder, Mohammad Moosajee, het ná die reeks teen Pakistan gaan sit en beplan wat hy alles moet doen om oorgehaal te bly indien hy benodig sou word.

Hy was in sy noppies met die 56 boulbeurte (2/217), wat hy in die Cape Cobras se kolfbeurt in die Dolphins se laaste meerdagstryd in Pietermaritzburg afgestuur het.

“Ek het gelukkig ’n lang boulskof ingekry, wat belangrik is vir ’n draaier en ek het ook hard in nette gewerk. Ek dink ek is hopelik reg.”

* Sri Lanka se enigste sege in 13 toetse in Suid-Afrika was in 2011 hoeka op Kingsmead in Durban.

Die snelbouler Marchant de Lange het sy buiging met 7/81 in die eilandmanne se eerste beurt gevier, maar die hotklou-draaier en Speler van die Wedstryd, Rangana Herath, het met altesaam nege paaltjies die laaste sê gehad.

Meer oor:  Sri Lanka  |  Keshav Maharaj  |  Toetskrieket  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.