Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Proteas: Markram werk aan kraghoue

’n Gebrek aan balans is die Proteas se T20-span se grootste probleem.

Die span het net vyf voorslag-boulopsies en ’n gebrek aan veelsydige spelers beteken Kagiso Rabada moet in die belangrike posisie van nr. 8 kolf – dalk nog een plek te hoog vir hom, al het hy baie kolftalent.

Maar daar is ook ’n ander balansprobleem: Die span het te veel topordekolwers en nie genoeg laer- tot middelordekolwers nie.

Daarom het Suid-Afrika in die eerste wedstryd teen Ierland Maandag met vier aanvangskolwers, Quinton de Kock, Temba Bavuma, Janneman Malan en Aiden Markram, gespeel.

Aiden Markram kolf op nr. 4 in die Proteas se T20-reeks in Ierland. Foto: Gallo Images

Mark Boucher, die Protea-afrigter, wil graag soveel as moontlik van dié spelers in sy span inkry, maar dít vereis dat Malan as nr. 3 en Markram as nr. 4 ’n ander tipe rol vertolk as waaraan hulle gewoond is.

Malan het gesukkel en slegs vier lopies van vyf balle geslaan, maar Markram was goed en het 39 lopies (30 b) aangeteken in die span se oorwinning met 33 lopies.

“Ek het met die afrigter en Temba gepraat oor die verskillende rolle waarin hulle my sien, of waarin hulle vir my ’n kans wil gee,” het Markram op die vooraand van Donderdag se tweede wedstryd gesê.

“Ek is tevrede om enige rol vir die span te vertolk, solank dit die span baat en ek die taak kan verrig. Ons eksperimenteer met ’n paar posisies en dit is ’n goeie ding, want ons het ’n hele klomp topordekolwers in die groep.”

Sy nuwe posisie vereis ’n paar taktiese verstellings.

“Die rol wat ek vir dié toer gekry het, is die nr. 4-plek. As jy die beurt begin, weet jy wat van jou verwag word, maar as jy later instap, moet jy kan aanpas by die situasie van die wedstryd.

“Jy moet soms instap en die sneller van die begin af trek. My kraghoue is iets waaraan ek hard werk, veral met die fokus daarop om kraghoue te kan slaan selfs al het jy nog nie veel balle trotseer nie.

“In netsessies stap ek in en kyk vir grenshoue van die begin af, of minstens om twees te kry en nie om myself eers in te speel nie.”

Markram sê die span het baie gesprekke gehad oor hoe hulle ’n goeie begin in groter tellings kan omskakel. Hy sê die sleutel is dat ’n kolwer wat reeds homself ingespeel het, verkieslik moet inbly in die laaste vyf beurte.

“Ons het in die laaste paar wedstryde die heeltyd die kolwer wat goed ingegrawe was, verloor net voor die einde, en dit maak dit moeilik vir die nuwe ou wat inkom om van die begin af groot houe te speel.”

Protea-groep: Temba Bavuma (k), Quinton de Kock, Janneman Malan, Aiden Markram, Rassie van der Dussen, David Miller, George Linde, Kagiso Rabada, Lizaad Williams, Lungi Ngidi, Tabraiz Shamsi, Anrich Nortjé, Bjorn Fortuin, Reeza Hendricks, Beuran Hendricks, Wiaan Mulder, Kyle Verreynne, Andile Phehlukwayo.

Begintyd: 17:00 regstreeks op SS Grandstand (201) en SS Cricket (212).

Meer oor:  T20  |  Ierland  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.