Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Proteas oefen plek-plek weer, elk met eie bal

In Johannesburg, Kaapstad en Durban het van Suid-Afrika se voorste spelers Maandag vir die eerste keer in drie maande weer krieket geoefen, maar in Pretoria, Bloemfontein en Port Elizabeth sal die spelers eers later vandeesweek na die oefenveld terugkeer.

Die Protea-kolwer Faf du Plessis het in Kaapstad in Bishops se binnenshuise nette onder die wakende oog van die Protea-afrigter, Mark Boucher, geoefen. Foto: Getty Images

Nathi Mthethwa, die minister van sport, het Vrydag Krieket Suid-Afrika (KSA) se protokol-planne om na die oefen- en speelveld terug te keer goedgekeur.

Jacques Faul, KSA se waarnemende uitvoerende hoof, het Sondag gesê die Protea-spelers moet so gou as moontlik weer begin oefen.

Die Proteas wat in Johannesburg gesetel is, het Maandag onder streng gesondheidsmaatreëls en onder die wakende oog van die Lions-afrigter, Wandile Gwavu, en sy afrigtingspan op die Wanderers begin oefen.

“Die afrigters moet maskers dra, wat dit moeilik maak om asem te haal, maar ons moet dit doen om die spelers te beskerm,” sê Gwavu.

“Elke speler moet ook sy eie krieketbal gebruik, wat die grootste uitdaging gaan wees. Die boulers boul met hul eie balle, dan maak hulle dit die aand skoon, bring dit die volgende dag terug en maak seker niemand vat aan hul balle nie.

“Ons mag nie bladskud nie, wat ook ’n aanpassing is. Die kolwers mag nie die balle wat hulle in die nette slaan, vir ons help bymekaarmaak nie. Daar is boonop oral handreinigers.

“Dit is nogal iets om aan gewoond te raak.”

Kagiso Rabada was deel van ’n groep spelers wat Maandag weer by die Wanderers geoefen het. Foto: Gallo Images

Kagiso Rabada, Wiaan Mulder, Tabraiz Shamsi, Reeza Hendricks, Temba Bavuma en Dwaine Pretorius is die spelers wat op die Wanderers oefen. Die Lions se franchise-span sal eers later weer begin oefen.

In Kaapstad het Faf du Plessis, Beuran Hendricks, Kyle Verreynne en Janneman Malan onder leiding van die Protea-afrigter, Mark Boucher, en die hoëprestasie-afrigter, Vincent Barnes, in die binnenshuise nette by Bishops begin oefen, berig Altus Momberg.

Al ses van hulle sal daagliks deur ’n siftingsproses moet gaan, waar hul koors onder meer gemeet sal word. Hulle is egter nog nie weer vir Covid-19 getoets ná die vorige ronde van toetsing twee weke gelede nie. Toe het KSA net meer as 100 toetse onder spelers en ondersteuningspersoneel gedoen en sewe mense, van wie die minderheid spelers was, is positief getoets.

In Durban het die Proteas én die Dolphins Maandag weer op Kingsmead gesweet.

“Ons het vandag met ons spelers se voorseisoense fiksheidsprogram begin,” sê Imraan Khan, die Dolphins se afrigter.

“Die hoëprestasie-spelers sal met hul vaardigheidsoefeninge begin ter voorbereiding van enige moontlike toere wat KSA beplan.”

Dié spelers is David Miller, Andile Phehlukwayo en Keshav Maharaj.

Die spelers wat in Pretoria gesetel is, het nog nie Maandag op SuperSport-park geoefen nie. Die stadion word weer skoongemaak en die spelers sal moontlik later die week soontoe opruk.

Heinrich Klaasen kan nie wag om weer saam met sy spanmaats te oefen nie. Foto: Gallo Images

Heinrich Klaasen, die Protea-kolwer wat sy krieket vir die Titans in Centurion speel, sien uit daarna om weer sy spanmaats te sien.

“Ja, ek dink baie ouens is opgewonde daaroor. Ek sien meer uit om saam met ons fiksheidsafrigter te oefen (as om weer dadelik balle te begin slaan),” sê Klaasen.

“Die aftyd het my goed gedoen. Ek begin die spel mis, so ek probeer om dit vir so lank as moontlik uit te rek. Maar ek wil graag net weer saam met die span oefen.”

In Port Elizabeth het geen spelers Maandag op St. Georgepark geoefen nie.

“Ons is besig om protokolle vir oefeninge in die stadion gereed te kry en dan moet ons ’n bedryfstelsel (volgens die Covid-19-regulasies) vir ons afrigters uitwerk. Dít word dié week gedoen,” sê Robin Peterson, die Warriors se hoofafrigter.

In Bloemfontein begin die Knights-groep van Woensdag af weer in die stadion oefen sodra alle toetse klaar is en alle maatreëls in plek is. Die spelers het Maandag ’n vergadering oor die maatreëls gehou.

Dit is nog nie duidelik wanneer die Proteas weer ’n internasionale wedstryd sal speel nie. Die toer na die Windies, wat twee toetse en vyf T20-wedstryde insluit, is nog nie van die baan nie.

Daar is ook ’n moontlikheid dat Indië in Augustus in drie T20-wedstryde in Suid-Afrika kan kom speel.

Die plan is dat regstreekse krieket met die Solidarity Cup-driespan-wedstryd hervat word. In dié wedstryd sal 24 van die land se beste spelers ’n ganse nuwe formaat, driespan-krieket, bekend stel. Die datum van die wedstryd moet nog aangekondig word.

Meer oor:  Krieket  |  T20  |  Toetskrieket  |  Mark Boucher  |  Eendagkrieket  |  Proteas  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.