Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Proteas pronk, maar reën het in SA laaste sê

Die Proteas se spanbestuur sal hoop dat Suid-Afrika se Wêreldbeker-uitverkorenes wat tans uitblink in die Indiese Premierliga (IPL), hul spelpeil sal behou in die opbou na die skouspel in Engeland.

Spelers soos Kagiso Rabada, Imran Tahir, Faf du Plessis, Quinton de Kock en David Miller is almal goed op dreef in die hoogs mededingende T20-reeks in Indië.

Dale Steyn vier Sondag een van sy twee paaltjies teen die Chennai Super Kings in die Indiese Premierliga. Foto: Sportzpics for BCCI

Die probleem vir die keurders is dat die res van die Protea-groep tans nie juis veel speelkans kry nie. Die plaaslike T20-Uitdaagreeks word erg deur die weer gekniehalter, met nege van die 17 wedstryde in dié toernooi sover wat weens reën nie voltooi kon word nie. Al drie wedstryde wat Maandag gespeel sou word, het weens eendeweer in die slag gebly. Die Knights voel dit veral aan hul bas, met vier van hul tuiswedstryde wat tot dusver uitgereën het.

Die vertonings van die Proteas se ervare kern in Indië sal nietemin verblydend wees. Rabada en Tahir is steeds die twee grootste paaltjievrate in die IPL. Rabada het al 21 slagoffers in sy eerste tien wedstryde vir die Delhi Capitals platgetrek. Hy is die Capitals se waardevolste speler en die hoofrede waarom die span van die Indiese hoofstad tans derde op die IPL-puntelys is.

Tahir het 16 paaltjies ná tien wedstryde en is die voorlopers, die Chennai Super Kings, se gevaarlikste wapen.

Dale Steyn het einde verlede week by die Royal Challengers Bangalore (RCB) aangesluit en ook onmiddellik sy teenwoordigheid laat geld. Voor sy aankoms het RCB slegs een van sy eerste agt wedstryde gewen, maar het nou albei wedstryde gewen met Steyn in sy aanval. Dié snelbouler het 2/40 teen die Kolkata Knight Riders geneem en toe 2/28 in ’n sege oor die pasaangeër, die Chennai Super Kings Sondagaand.

Die WB-toernooi begin op 31 Mei, wanneer Suid-Afrika Engeland die stryd aansê, maar as Rabada, Steyn en Tahir dié peil kan handhaaf, gaan die Proteas ’n gevaarspan by die spogtoernooi wees.

Daar was egter die naweek ook nog slegte nuus. Hashim Amla, wat die Proteas se reeks teen Sri Lanka misgeloop het omdat hy sy siek pa bygestaan het, het hom Maandag onttrek aan die Cape Cobras se span wat Maandag teen die Knights sou gespeel het. Amla se pa is terug in die waakeenheid in ’n Durbanse hospitaal en die bebaarde kolwer het hom gaan bystaan.

Dit beteken dat Amla, wat steeds sukkel om sy beste peil te herwin, slegs geringe verdere speelkans in die opbou tot die WB-toernooi sal kry.

Die T20-Uitdaagreeks hervat Woensdag met die Cobras wat die Titans op Bolandpark in die Paarl pak, die Knights speel teen die Dolphins in Bloemfontein en die Lions is slaags teen die Warriors op die Wanderers in Johannesburg.

Meer oor:  Dale Steyn  |  Wêreldbekerkrieket  |  T20-Uitdaagreeks  |  Proteas  |  Ipl
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.