Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Proteas roep nóg ’n groentjie op

Die groentjie Marco Jansen is by die Proteas se groep gevoeg vir hul toetsreeks teen Pakistan in die plek van nóg ’n bouler sonder toetservaring, Ottniel Baartman.

Baartman moes hom weens “mediese redes” aan die groep onttrek, wat die deur oopswaai vir Jansen, ’n 20-jarige linkshandige snelbouler van die Warriors.

Die jong Marco Jansen is by die Proteas se toetsgroep gevoeg. Foto: Gallo Images

Jansen het hom verlede jaar van die Knights by die Warriors aangesluit en het onmiddellik ’n indruk gemaak. Hy is tans die naasvoorste paaltjievraat in die meerdagreeks, met 21 slagoffers in vier wedstryde teen ’n gemiddeld van 20.71 lopies per paaltjie. Hy het nog net 12 eersterangse wedstryde gespeel, maar het reeds 52 paaltjies agter sy naam, teen ’n gemiddeld van 20.51.

Hy is ook behendig met die kolf en het reeds twee eersterangse vyftigtalle aangeteken.

Sy afrigter by die Warriors, Robin Peterson, glo Jansen kan ’n uitsonderlike internasionale speler word.

“Hy het al die vaardighede – hy is lank, hy swaai die bal, hy boul blitsvinnig en hy slaan die bal ver, wat vir jou nog ’n veelsydige opsie gee,” het Peterson aan Netwerk24 gesê.

Die Protea-breintrust sal hoop hy gebruik die geleentheid in Pakistan om van nuwe boultoestande te leer.

Mark Boucher, die Protea-breier, verwag juis dat die Protea-boulers Pakistan moet gebruik om hul vaardighede wat omgekeerde swaaibeweging betref, op te skerp.

“Dit is anders as die ander subkontinentlande. In Indië draai die bal beduidend, maar in Pakistan was ons nog nie in wedstryde waar die bal skerp gedraai het nie; die toestande was bevorderlik vir snelboulwerk,” sê Boucher.

“My eerste toer (in 1997) was daar. Ek het altyd net gesien hoe Waqar Younis en Wasim Akram instorm en die bal omgekeerd laat swaai, maar dit was iets anders om dit in my eerste toets te trotseer.

“Die blaaie is histories mak en jy sal dus sien dat ouens hul vaart gebruik. Omgekeerde swaaibeweging was ’n groot faktor (toe ons daar gespeel het), maar ek weet die reëls is deesdae strenger oor wat jy aan die bal kan doen om omgekeerde swaai te bewerkstellig. Ek dink nie ons gaan té veel daarvan sien nie.”

Weens Covid-regulasies mag spanne nie die bal met spoeg bewerk nie. Ná die Aussies se skuurpapier-skandaal van 2018, word spelers ook stip dopgehou wanneer hulle die bal bewerk.

Tog sal die Proteas probeer om daardie boulwapen te ontsluit.

“Dit is beslis iets waarna ons moet kyk. Die ding is – jy kan ’n goeie omgekeerdeswaai-bouler wees, maar as die bal nie omgekeerd swaai nie, gaan jy niks uitgerig kry nie. Ons moet die bal op een of ander manier omgekeerd laat swaai.

“In Covid-tye moet jy versigtig wees oor hoe jy na die bal kyk. Daar is wettige maniere hoe jy een kant van die bal kan rof maak en die bal omgekeerd kan laat swaai en ons sal dit ondersoek, maar baie van ons boulers het nog nooit nodig gehad om omgekeerde swaaiballe te boul nie.

“Ek onthou op franchise-vlak as ons na plekke gaan waar jy moontlik omgekeerde swaai kan kry, sal ons een kant van die bal laat verweer, maar die ouens kan nie die omgekeerde swaai beheer nie, want hulle is nie gewoond daaraan nie. Dit sal dus ’n goeie les wees.

“KG (Kagiso Rabada) het al puik geboul met omgekeerde swaai en sy ervaring sal die jonger boulers help. Gelukkig het ons ’n paar dae om eerstens te bespreek hoe ons die bal gaan bewerk en dan tweedens hoe die ouens daarmee moet boul.

“Ons boulafrigter, Charl Langeveldt, was ’n meester van omgekeerde swaai en hy sal die regte besluite neem om dit vir ons reg te kry.”

• Pakistan het ook Vrydag sy groep vir die reeks aangekondig.

Daar is ’n paar verrassings en die groep sluit nege spelers sonder toetservaring in. Ervare spelers soos Haris Sohail, Mohammad Abbas en Shan Masood is weggelaat weens swak vertonings in hul onlangse wegreeks teen Nieu-Seeland.

Pakistan het wel sy besielende kaptein, Babar Azam, terug, wat weens ’n besering nie teen Nieu-Seeland kon speel nie.

Pakistan se groep:

Aanvangskolwers: Abid Ali, Abdullah Shafique en Imran Butt. Middelordekolwers: Azhar Ali, Babar Azam (k), Fawad Alam, Kamran Ghulam, Salman Ali Agha en Saud Shakeel. Veelsydige spelers: Faheem Ashraf en Mohammad Nawaz. Paaltjiewagters: Mohammad Rizwan en Sarfaraz Ahmed. Draaibalboulers: Nauman Ali, Sajid Khan en Yasir Shah. Snelboulers: Haris Rauf, Hasan Ali, Shaheen Shah Afridi en Tabish Khan.

Meer oor:  Pakistan  |  Marco Jansen  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.