Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Proteas sál BLM-gesprekke hê, sê Ngidi

Die Black Lives Matter (BLM)-veldtog is iets wat in die Protea-krieketspan bespreek sal word, sê Lungi Ngidi. Selfs al moet hy self die gesprekke van stapel stuur.

Lungi Ngidi vier die paaltjie van Engeland se Moeen Ali vroeër vanjaar in die eerste T20-wedstryd in Oos-Londen. Foto: Getty Images

Ngidi, Krieket Suid-Afrika (KSA) se Eendag- en T20-Speler van die Jaar, het Maandag gesê die Proteas is almal bewus van dié wêreldwye veldtog teen rassisme, maar kon dit vanweë die Covid-19-pandemie nog nie behoorlik bespreek nie.

“Ons het daaroor gepraat en almal weet wat aangaan. Dit is moeilik om dit tans te bespreek, want ons is

nie fisiek byeen as ’n span nie.

“Sodra ons weer begin speel, sal ons dit as ’n span hanteer,” het Ngidi gesê.

“As ’n land het ons ’n moeilike verlede met betrekking tot rassediskriminasie. Ons sal die kwessie as ’n span benader. As dit nie natuurlik gebeur nie, sal ek seker maak ek haal dit op.

“Dit is iets wat ons ernstig moet opneem en waaroor ons, soos wat die res van die wêreld doen, standpunt moet inneem.”

Die Windies gaan met ’n Black Lives Matter-kenteken op hul hemde speel in die toetsreeks teen Engeland, wat Woensdag begin. Foto: Getty Images

Die BLM-veldtog en gepaardgaande protesaksie het gevolg nadat ’n swart Amerikaner, George Floyd, in Mei vanjaar dood is nadat ’n polisieman, Derek Chauvin, vir bykans agt minute lank op sy nek gesit het. Floyd is daarvan verdink dat hy met ’n vervalste noot wou betaal.

Sy dood het die kollig op polisiewreedheid teenoor veral swartmense en ook rassisme in die breë geskyn.

Die veldtog het intussen tot die sportveld oorgespoel. Sokkerspanne in die Engelse Premierliga het hul ondersteuning aan dié veldtog gewys deur die woorde Black Lives Matter agter op hul hemde te dra tydens die eerste wedstryd nadat die seisoen hervat het.

Spelers het ook gekniel voor wedstryde. Die gebruik om te kniel om solidariteit met die stryd teen rasseongelykheid te betoon, het sy ontstaan in 2016 gehad toe die Amerikaanse voetbalster Colin Kaepernick gekniel het tydens die sing van die Amerikaanse volkslied.

Die Britse F1-renjaer Lewis Hamilton het ook die naweek by die Oostenrykse Grand Prix ’n swart T-hemp gedra waarop die woorde Black Lives Matter gestaan het.

Die Windies-kaptein, Jason Holder, wys na die Black Lives Matter-logo op sy toetshemp. Foto: Getty Images

Die krieketspan van die Wes-Indiese Eilande gaan hul ondersteuning aan die BLM-beweging tydens die toetsreeks teen Engeland wys, deur ’n BLM-kenteken op die kraag van hul hemde te dra. Die eerste toets in dié reeks begin Woensdag in Southampton.

Die Engelse krieketspan het intussen ook besluit om tydens dié reeks van drie toetse ’n BLM-kenteken op hul hemde te dra.

“Dit is eenvoudig, ons glo daar is geen ruimte vir rassisme of enige vorm van diskriminasie op enige plek nie,” het die Engelse kaptein, Joe Root, volgens The Guardian gesê.

“Dit is belangrik om solidariteit met die swart gemeenskap te betoon en om broodnodige bewustheid rondom kwessies soos gelykheid en geregtigheid op te skerp.

“Die Engelse spelers en bestuurspan is verenig in hierdie aanslag en sal die platform van internasionale krieket gebruik om die veldtog ten volle te ondersteun om rassevooroordele, waar ook al dit bestaan, uit te wis.”

Meer oor:  Lungi Ngidi  |  Blm  |  Krieket  |  Toetskrieket  |  Windies  |  Black Lives Matter  |  Proteas  |  Engeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.