Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Proteas ‘sal nie 100% wees’ in 3-span-wedstryd
Quinton de Kock is die kaptein van die Kites vir die Solidarity Cup-driespan-krieketwedstryd. Foto: Getty Images

Ondersteuners moet nie verwag om die Protea-krieketspelers op hul heel beste te sien wanneer die spelers volgende Saterdag hul terugkeer tot die speelveld maak nie.

Regstreekse krieket keer dan in Centurion terug met die Solidarity Cup-driespan-wedstryd, waarin 24 van die land se beste spelers in aksie sal wees.

Dit is die eerste driespan-krieketwedstryd, wat tussen AB de Villiers se Eagles, Kagiso Rabada se Kingfishers en Quinton de Kock se Kites beslis sal word. Drie spanne speel in een wedstryd van 36 boulbeurte, wat in twee helftes verdeel word.

“Van die spelers het hul kommer uitgespreek dat hulle nie heeltemal gereed sal wees nie. Chris Morris het byvoorbeeld gesê hy sal nie teen 100% kan boul nie. KG dalk ook nie, want weens die inperking kon hulle nie so hard oefen soos wat hulle sou wou nie,” sê die voormalige Bok-kaptein Francois Pienaar, wat as die uitvoerende hoof van 3TeamCricket deel van die reëlings vir die Solidarity Cup-wedstryd is.

KSA wag nog op die regering om hul protokolvoorstelle vir die terugkeer tot die oefen- en speelveld goed te keur en spelers het dus nog nie kans gehad om in die nette te oefen nie.

Adrian le Roux, ’n fiksheidsghoeroe, is egter nie bekommerd oor moontlike beserings weens ’n gebrek aan krieketoefening voor dié wedstryd nie. Le Roux vorm deel van KSA se span deskundiges wat na die spelers se fiksheid omgesien het tydens die staat van inperking.

Ek het na my kolwe in die stoorkamer gekyk en hulle is gereed om weer ’n paar grenshoue te slaan.
AB de Villiers

“Ons het die spelers so goed as wat ons kon voorberei daarop. Die doelwit was om hul fiksheidsvlakke te behou en die grondslag wat ons gelê het, gee vir ons meer gemoedsrus dat die ouens makliker sal kan oorskakel na krieket,” sê Le Roux.

“Dit is so dat ons nog nie baie krieketspesifieke goed gedoen het nie. Volgende week se wedstryd is deel van die terugkeer tot krieket. As dit ’n internasionale wedstryd was, sou ek dalk bekommerd gewees het.”

Elke span kolf slegs vir 12 boulbeurte en boulers boul ook minder, so hul werklading is minder.

“Dis nie asof hulle in ’n toets gaan speel nie.”

Andrew Breetzke, die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Krieketspelersvereniging (Saca), sê die protokolle wat aan die regering voorgelê is, was baie volledig en deeglik.

“Ons voel dit is nou veilig om terug te keer tot die speelveld,” sê Breetzke.

Graeme Smith, KSA se direkteur van krieket. Foto: Getty Images

“Wat betref die speel van krieket buite seisoen – geen speler word gedwing om te speel nie. KSA se mediese span moet betrokke wees sodat die spelers fisiek op ’n plek is waar hulle voel hulle kan speel.”

Graeme Smith, KSA se direkteur van krieket, sê die spelers het reeds permitte gekry om te reis en dat hulle met die departement van sport en ontspanning saamwerk oor die protokolle.

Hy en Mark Boucher, die Protea-afrigter, was saam met KSA se transformasiekomitee betrokke by die kies van die drie spanne.

“Dit was interessant om spanne vir ’n nuwe formaat te kies. Jy streef na balans en wil die spanne mededingend maak. Jy wil die beste moontlike krieket sien.

“Ons kan wel nie van ons spelers verwag om 100% te wees nie. Hulle het fiksheidsoefeninge gedoen, maar hulle kon nie krieketspesifieke oefeninge doen nie.”

Die spelers sien ook uit daarna om na die speelveld terug te keer.

“Ek het na my kolwe in die stoorkamer gekyk en hulle is gereed om weer ’n paar grenshoue te slaan,” sê De Villiers.

Hy was self ook nog nie in oefennette nie, maar het gholfballe teen ’n gholfnet in sy tuin geslaan en met gewigte en op ’n trapmeul in sy huis geoefen tydens die inperking.

Meer oor:  Driespan-Wedstryd  |  Solidarity Cup  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.