Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Proteas ‘sal pa moet staan vir hul gesukkel’
Robin Peterson Foto: Gallo Images

Die Proteas sal moet pa staan vir hul sukkelvertonings en sal werk moet maak van hul treurige toetsrekord van die afgelope jaar, sê Robin Peterson, ’n voormalige Proteas-draaier.

Hy meen die toetsreeks in die Wes-Indiese Eilande is die perfekte plek vir die Suid-Afrikaanse span om hulself weer op koers te kry wat toetskrieket betref.

“Die Windies-toer behoort ’n goeie plek te wees om ’n fondament te lê vir die res van die nuwe seisoen, veral gegewe dat Indië hier kom toer in Desember,” het Peterson gister aan Rapport gesê.

“Dis nie ’n geheim nie, maar dinge het die afgelope ruk nie goed gegaan vir ons toetsspan nie. Dis ’n geleentheid vir hulle om daardie vlam weer aan die brand te steek en om uit te kom waar hulle moet wees.

“Suid-Afrika moet altyd probeer om in die topdrie ter wêreld te wees as dit by toetskrieket kom, veral as daar gekyk word na ons skolekrieket en die talent wat ons tot ons beskikking het.”

Die Proteas het in die eerste Toetskampioenskap van die Internasionale Krieketraad sewende geëindig. Die span is tans ook sewende op die toetsranglys.

’n Mengsel van ervare spelers en talentvolle nuwelinge sal eerskomende Donderdag in die eerste toets teen die Windies in St. Lucia die veld betree.

“Dit is die spelers wat goed moet speel. Ons kan nie doekies daaroor omdraai nie. Hulle moet meer verantwoordelikheid en aanspreeklikheid aanvaar.

“Ons kan wie ook al die skuld gee, maar aan die einde van die dag stap die spelers op die veld en is daar nie veel wat die afrigter kan doen nie.”

Hy gee toe dat die huidige toestande in die Windies nog onbekend is, maar dit is vir dié voormalige linksdraaier ’n groot pluspunt dat daar vier draaiers in die toetsgroep is: Keshav Maharaj, George Linde, Tabraiz Shamsi en Prenelan Subrayen.

Dit is ’n verandering vir die Proteas, wat lank meestal op snelboulers staatgemaak het.

“Hoe meer afwisseling en opsies jy tot jou beskikking het, hoe beter is dit vir die span.

“Danksy Covid-19 kon die Proteas ook ’n groter groep kies wat die weg gebaan het vir meer draaiers.

Sa draaiers,krieket

“In die Karibiese Eilande is die kolfblaaie gewoonlik plat en hoe meer jy jou boulaanval kan verander, en afwissel tussen snel- en draaiboulers, hoe beter is jou kans om 20 paaltjies te kry.

“Dit is ook goed dat draaiers op plaaslike vlak beloon word vir wat hulle hier met hul boulwerk regkry.

“Subs (Subrayen) is al ’n geruime tyd op die toneel. Mense dink as jy verby ’n sekere ouderdom is, dan is jou tyd verby.

“Hy is egter nou in sy laat twintigs en verstaan sy eie boulwerk baie beter. Dis goed dat iemand soos hy ingesluit is.”

Volgens Peterson sal dit wel afhang van die toestande wie saam met Maharaj ingespan word, maar dit sal meer sin maak om iemand soos Shamsi of Subrayen, wat albei regs is, saam met die Proteas-linksdraaier te gebruik.

Vir Omar Henry, ’n voormalige Proteas-keurder en -draaier, staan Maharaj en Linde voor in die ry met Subrayen wat as afwisseling ingespan kan word.

“Alles gaan egter afhang of die span ’n draaiersblad gaan kry,” het hy gesê.

“Daar is wel geen twyfel dat al vier draaiers daar hoort nie, gegewe hoe hulle plaaslik gevaar het.

“Beide Maharaj en Linde kan as kolwers ook gebruik word. Hulle kan selfs op verskillende posisies kolf.”

Volgens Henry is hierdie ’n baie belangrike toetsreeks vir die Proteas.

“Hulle moet iewers selfvertroue kry.”

  • Eerste toets, St. Lucia (Donderdag 15:45, regstreeks op SS Grandstand en 212).
Meer oor:  Krieket  |  Toetskrieket  |  Robin Peterson  |  Proteas  |  Boulers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.