Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Proteas se lyding in Indië ten einde

Die marteling is Dinsdag uiteindelik ná slegs twee boulbeurte verby toe die grootste drag slae wat die nasionale krieketspan sedert 1936 in ’n toetsreeks gekry het, tot ’n einde gekom het.

s
Op ons knieë... Dean Elgar val plat nadat hy op dag drie van die derde toets teen die kop raakgeboul is. Foto: Gallo Images

Indië het die bloeiende Protea-span se keel op die vierde dag van die derde toets in Ranchi finaal afgesny deur die laaste twee paaltjies blitsvinnig plat te trek. Die lyding wat dié toetsreeks meegebring het, is nou, ná ’n nederlaag met ’n beurt en 202 lopies, genadiglik verby. Die vernedering is reusagtig, maar dis ’n seën dat daar nie nog ’n toets is wat die Proteas kan verloor nie. 

Die briljante span van Virat Kohli het Suid-Afrika nou nederlae van 203 lopies, ’n beurt en 137 lopies, en ’n beurt en 202 lopies toegedien. Dit is genoeg, dankie. 

Die laaste keer dat Suid-Afrika in dieselfde reeks twee agtereenvolgende beurtnederlae gely het, was in 1936 in Suid-Afrika teen Australië. 

Dit is maar die vyfde keer in die geskiedenis dat Suid-Afrika ’n skoonskip-reeksnederlaag in ’n reeks met drie of meer toetse toegedien word. In 2006 het die Aussies die Proteas met 3-0 in ’n toetsreeks in Suid-Afrika geklop, maar die oorwinnings (7 paaltjies, 112 lopies en 2 paaltjies) was nie so groot soos hier nie. 

In 2001/’02 het die Aussies wel ’n tuisreekssege behaal wat bykans net so klinkend soos dié Indiese oorwinning is, met seges met 246 lopies, 9 paaltjies en 10 paaltjies. Hierdie Indiese span herinner aan daardie allesoorheersende Aussie-span.

Tussen 1935 en 1951 het Suid-Afrika nie ’n enkele wedstryd in 26 toetse gewen nie. Die nasionale span het in Februarie ’n reeks van twee tuistoetse teen ’n powere Sri Lankaanse span verloor. Moet ons ’n soortgelyke era van vrotsigheid verwag? 

Dalk nie in so ’n mate nie, maar vir hierdie lot Proteas gaan die toetsreeks in die Wes-Indiese Eilande in 2020 ’n goeie maatstaf wees van waar hulle hulself bevind. Ja, waar die trotse span van Graeme Smith tussen 2007 en 2015 nie ’n enkele toetsreeks oorsee verloor het nie, sal die Proteas voortaan met die sukkelende Windies meeding.

TELKAART

In hierdie reeks teen Indië was die kloof in gehalte tussen die spanne so groot soos die Melkweg. Indië het in elk van die drie toetse ’n dubbele 100-tal aangeteken. Eers het Mayank Agarwal verby 200 geskuif, toe in die tweede toets Kohli en in dié toets Rohit Sharma. Indië word dus die eerste span om ’n dubbele 100-tal in elke toets van ’n reeks van drie toetse aan te teken.

Die Suid-Afrikaanse boulers het nooit werklik gedreig nie. Suid-Afrika kon Indië nie ’n enkele keer uitboul nie, maar is self ses keer uitgeboul. Die Proteas se 25 slagoffers steek baie sleg af by Indië se 60. 

Met die kolf was Suid-Afrika net so vrot. Volgens die krieketstatistikus Andrew Samson het Suid-Afrika in hierdie reeks die vierde laagste gemiddelde aanvangsvennootskap nóg in toetsreekse met ’n minimum van ses beurte. Die eerste Protea-paaltjie was gemiddeld slegs 4.83 lopies werd. Dit is vernederend vrot.

Samson het ook op Twitter daarop gewys dat Suid-Afrika die eerste span geword het wie se nr. 10 (of nr. 11) in twee agtereenvolgende toetsbeurte die span se voorste lopiemaker word. Dane Piedt het die meeste lopies in die tweede beurt in Visakhapatnam aangeteken en Keshav Maharaj in die eerste beurt in Pune. Dit wys hoe swak die topkolwers was.

HOOGTEPUNTE

Was daar enige ligpunte? Dean Elgar en Quinton de Kock se 100-talle in die eerste toets was bemoedigend.

Kagiso Rabada se boulwerk op die eerste dag van die tweede toets was belowend. 

Senuran Muthusamy het goed gekolf en gewys hy kan ’n internasionale veelsydige speler wees. 

Dit is egter nie waarvoor hierdie toetsreeks nie onthou sal word nie. Dit is ’n reeks waarin Suid-Afrika nie eens effens mededingend was nie – op die veld het dinge uitmekaar geval. 

’n Mens wil graag dink ’n nuwe generasie is op pad om deur te kom. ’n Mens wil glo dinge sal weer beter verloop. Op die oomblik is dit net moeilik om te sien hoe. 

Meer oor:  Toetskrieket  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.