Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
‘Omgekrapte’ Ismail by mylpaal
Die Proteas se Shabnim Ismail stuur een van haar kartetse die afgelope naweek teen Engeland af. Foto: Getty Images

’n Groot mylpaal wink vir die Protea-vrouekrieketspeler Shabnim Ismail, wat binne die volgende paar dae slegs die derde vrou kan word om 100 paaltjies in internasionale T20-wedstryde plat te trek.

Die 31-jarige snelbouler het reeds 95 paaltjies laat kantel sedert sy haar buiging in 2007 gemaak het.

Slegs die Wes-Indiese Eilande se Anisa Mohammed (119) en Ellyse Perry (114) van Australië het kon al dié prestasie behaal.

Ismail en Anya Shrubsole (97) van Engeland is in ’n wedloop om te sien wie die derde speler met 100 paaltjies agter haar naam gaan word.

“Ja, natuurlik sien ek daarna uit om die mylpaal van 100 paaltjies te bereik. Dit is iets waarvoor ek regtig hard gewerk het en as ek dit kan vermag, sal dit ’n bewys wees dat harde werk beloon word,” sê Ismail.

Suid-Afrika kom Vrydag teen Thailand en Sondag teen Pakistan te staan in die T20-Wêreldbeker-toernooi (T20-WB) in Australië. Slaag die Proteas daarin om albei kragmetings te wen, sal hulle omtrent verseker wees van ’n plek in die halfeindronde.

Met ’n vurige Ismail aan die spits, kan die Thaise en Pakistanse kolwers hulle maar klaarmaak om met blitsballe gepeper te word.

Een van die TV-kommentators het die afgelope naweek in die wedstryd tussen Suid-Afrika en Engeland na Ismail verwys as iemand wat “omgekrap” is.

As ’n snelbouler het jy ’n mate van aggressie. Ek moet erken dat ek ’n bietjie meer as dit het, wat mense laat dink dat ek omgekrap is.
Shabnim Ismail

“Ek sal nie sê dit is die geval nie. As ’n snelbouler het jy ’n mate van aggressie. Ek moet erken dat ek ’n bietjie meer as dit het, wat mense laat dink dat ek omgekrap is.

“Maar ek sal dit eerder beskryf as my passie vir die spel. Ek kom net as omgekrap voor, maar ek dink nie dit is ’n slegte ding op die veld nie,” sê Ismael.

Dié boorling van Kaapstad twyfel nie ’n oomblik dat Suid-Afrika die halfeindronde kan haal nie.

“As ons die halfeind wil haal, sal ons elke wedstryd soos ’n eindstryd moet benader. Ons het die vaardighede en vermoë om al die pad te gaan.

“Die manier waarop ons tans speel, wys dat ons ’n wêreldklas-span vol wedstrydwenners is, wat gereed is om enige teenstander te pak,” sê Ismael.

Mignon du Preez

Dieselfde opinie is Donderdag uitgespreek deur die veteraan Mignon du Preez, wat die wenlopies teen Engeland Sondag met agtereenvolgende grenshoue in die laaste boulbeurt geslaan het.

“Ek kan nie onthou dat ons al voorheen ons sterkste moontlike span na ’n Wêreldbeker-toernooi kon neem nie, maar die keer het ons daardie luuksheid,” het sy aan Marizanne Kok gesê.

“Juis omdat ons weet ons is ’n span vol potensiële wedstrydwenners is ons selfvertroue hoog en laat ons onsself toe om baie groot te droom, van ’n plek in die eindstryd en ja, selfs van die trofee.”

Du Preez sê die spelers het voor die toernooi besluit dat hul grootste fokus moet wees op hul eie spel, eerder as hul teenstander s’n.

“Ons kan in elk geval nie beheer wat hulle doen nie, maar ons kan beheer wat ons doen,” sê sy.

Daarom het hulle sedert Sondag hard gewerk aan hul voorbereiding vir Vrydag se stryd teen Thailand, wat Du Preez as “gevaarlik” bestempel.

“Die ding is ons weet wat om te verwag as ons teen ’n Engeland of ’n Nieu-Seeland speel, maar ons het nog nooit teen Thailand te staan gekom nie. Hulle is gevaarlik, want hulle is ’n totaal onbekende faktor,” sê sy.

Ons het nog nooit teen Thailand te staan gekom nie. Hulle is gevaarlik, want hulle is ’n totaal onbekende faktor.
Mignon du Preez

“Ons kan nie bekostig om te dink hulle gaan maklik omgerol word omdat dit hul eerste keer by ’n WB-toernooi is nie. Ons moet steeds dieselfde intensiteit handhaaf as teen Engeland – ook omdat die intensiteit dan behoue bly vir die volgende wedstryd (Sondag teen Pakistan).

“Ons gaan beslis nie oorgerus wees teen Thailand nie. Wat help dit jy klop ’n grote soos Engeland, maar val dan vas teen Thailand?”

* Begintyd: Vrydag 05:50 (SA tyd, regstreeks op SS 2).

* Indië het reeds sy plek in die halfeindronde bespreek deur Nieu-Seeland Donderdag met drie lopies in Melbourne te klop. Die Indiërs is in Groep A.

Meer oor:  Mignon Du Preez  |  Thailand  |  Suid-Afrika  |  Australie  |  Krieket  |  T20-Wêreldbekertoernooi  |  Snelbouler  |  Protea-Vroue  |  Mylpaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.